Click on the warning image to view this post
Central SA
Vermeende moordenaar, verkragter ontken aanklagte in Kimberley-hof─── 09:12 Thu, 19 Oct 2023
‘Haar liggaam is die volgende dag gevind.’
’n Man wat die afgelope tien jaar, sedert hy 16 jaar oud was, na bewering minderjarige meisies in Galeshewe verkrag, bedrieg en vermoor het, het Woensdag skuld in die hooggeregshof in Kimberley op al 19 aanklagte teen hom ontken.
Itumeleng Machabe Bendow (25) van Hadison Park voer aan van die meisies het toestemming tot seks gegee. Hy ontken ook die moord en verkragting van Relebohile Segami (11) in Maart 2022. Dit was dié grusame ontdekking van haar liggaam in die veld agter die Noord-Kaapse Wetgewergebou, wat hom in die soeklig geplaas het. Dit was nadat die gemeenskap protesoptogte na die hof gehou het toe hy die eerste keer aangekla is.
Hy word ook aangekla van poging tot moord, bedrog, die blootstelling van minderjariges aan pornografie, crimen injuria en poging tot afpersing.
Sy eerste beweerde verkragting was in Julie 2013 toe hy ‘n 13-jarige meisie verkrag het nadat hy haar by ‘n kuierplek ontmoet het. Sy en haar ma het die voorval by die polisie aangemeld.
‘Hy het hulle oortuig om dit te doen.’
Die staat voer aan hy het van sy slagoffers op Facebook ontmoet. Hy het vanaf 2020 aan verskillende slagoffers voorgegee dat hy ‘n gay meisie, “Mona Lisa Femme” is wat nog skoolgaan. Hy het verskillende skole se name as deel van sy rookskerm gebruik. Hy sou na bewering sy slagoffers versoek om foto’s van hulself in gewone klere, skoolklere en nakend te stuur. Hoewel die meeste meisies huiwerig was, het hy hulle oortuig om dit te doen.
Sy beweerde werkswyse was om die gewone en naakfoto’s van vorige slagoffers te gebruik om nuwe slagoffers te oortuig dat dit “Femme”, die gay skoolmeisie, op die foto’s is. Hy het later van die foto’s op Facebook geplaas en daarmee meisies se name geskend. Of hy sou na bewering hul foto’s in nuwe Facebook-profiele van “Femme” as profielfoto’s gebruik as die meisies nie doen wat hy vra nie.
In een geval het “Femme” die slagoffer probeer oorreed om seksuele dade met haarself af te neem en om met "Femme" se “neef” uit te gaan. Die foto van die “neef” was inderdaad van die beskuldigde. Toe sy weier, het hy haar glo gedreig om – soos met die ander meisies – die naakfoto’s op Facebook te plaas. Sy het haar ma vertel wat gebeur het.
‘Haar lyk is die volgende dag gevind.’
In Desember 2021 het hy na bewering ‘n meisie twee keer in die veld agter die wetgewer verkrag. Daarna het hy het haar gedwing om orale seks met hom te hê en in haar mond geurineer. Vandaar het hy haar glo in ‘n nabygeleë waterpoel probeer stamp, maar sy het ontsnap. Hy het geskreeu dat hy haar sal vind en doodmaak. Sy is na polisie om hom te verkla.
Sy laaste beweerde misdaad voor sy inhegtenisneming was op 30 Maart 2022 toe hy saam met Relebogile Segami (11) In die veld geloop het. Haar liggaam is die volgende dag gevind. Sy is verkrag en verwurg.
Die saak voor regter Cecile Williams duur voort. Adv. Adele van Heerden kla aan. Adv. Sakkie Nel tree vir Machabe op.