On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Swaelneste aan brûe fassineer Bloemfonteiners

───   ELSABÉ DE JAGER 14:29 Mon, 15 Jan 2024

Swaelneste aan brûe fassineer Bloemfonteiners | News Article
’n Familieswael, ook bekend as die Suid-Afrikaanse swael, in vliegaksie in die Suikerbosrand-natuurreservaat. Foto: Derek Keats (Wikipedia)

“Dit is belangrik om die familieswael nie met die klein windswael te verwar nie. Hulle is nie naastenby familie nie.”

Swaeltjies se verspreidingsgebied in Suid-Afrika brei deurentyd uit namate ál meer brûe gebou word.

“Familieswaels kom gedurende die somermaande in Suid-Afrika voor. In die winter migreer hulle meestal na die Demokratiese Republiek van die Kongo en in ’n mindere mate na Zambië en Malawi,” sê Louise Coetzee, voorsitter van BirdLife Vrystaat. Hulle is kleinerig, met ’n blouswart rug en kop.

Vakansiegangers het hulle die afgelope Kerstyd vergaap aan die honderde swaelneste wat onder die brûe oor N1 in Bloemfontein voorkom. Met hul aankoms in die lente, begin die familieswaels modderneste bou.

Klein windswaelneste onder die brug oor D.F. Malherberylaan, Universitas, Bloemfontein. Vroegoggend geneem, terwyl voëls nog in neste is. Foto: Johan van Niekerk

Neste word hoofsaaklik onder mensgemaakte strukture soos brûe gebou. Die swaels kom in groot kolonies voor en bou hul neste teenmekaar, tot tussen 20 en 1 000 in een groep.

Die neste word van modder gebou. Die grootte wissel van 15 cm tot 20 cm lank en 8 cm tot 12 cm hoog, met ’n kort ingangstonnel van ongeveer 5 cm. Voor eiers gelê word, voer die mannetjie en wyfie die nes uit met sagte plantmateriaal, wol wat vashaak aan draadheinings of veertjies. Die bouery duur vyf tot sewe dae.

Twee tot drie eiers word gelê en die paar neem beurte om die eiers uit te broei. Nadat die kleintjies die nes verlaat om self te voed, keer hulle nog geruime tyd terug om in die nes te slaap.

Kleinwindswaels kom voor in Afrika en die suidwestelike dele van Asië. Foto: Derek Keats/Wikipedia

“Dit is belangrik om die familieswael nie met die kleinwindswael te verwar nie”, sê Coetzee. “Hulle is nie naastenby familie nie.”

Al agt soorte windswaels wat in Suid-Afrika aangetref word, kom in die Vrystaat voor. Hulle bring die hele dag in vlug deur waar hulle vlieënde insekte vang. Dié swael beskik nie oor die vermoë om op ’n tak of heining te sit soos die familieswael nie en kan slegs hang aan ’n growwe oppervlakte, soos neste of geboue met ’n growwe tekstuur.

Die kleinwindswael se nes, wat met veertjies en plantmateriaal uit die lug gevoer word en met speeksel aanmekaargeplak word, word soos ’n bakkie aan hoë mensgemaakte strukture, soos hoë geboue, brûe en watertorings gebou. ’n Klein ingang kom voor aan die kant van die nes. Die grootte wissel van 15 cm tot 18 cm lank en is 8 cm diep.

Neste van familieswaels en kleinwindswaels in ’n gemengde kolonie onder die brug oor D.F. Malherberylaan, Universitas, Bloemfontein. Foto: Johan van Niekerk

Nes die familieswaels broei die kleinwindswaels ook koloniaal, in swerms van 30 tot selfs 100 paar, sê Coetzee. Net twee eiers word gelê. Soos by die familieswael broei albei ouers om die beurt die eiers uit. Sodra die kleintjies die nes verlaat, keer hulle nie terug nie.

‘Familieswael het ’n roomkleurige pens en kleinwindswael ’n swarte’

Oor die onderskeid in voorkoms tussen dié twee soorte swaels wat tans gesien word by die brûe, verduidelik Coetzee: “By die brûe is dit maklik om tussen die familieswaels en die kleinwindswaels te onderskei. Die familieswael het ’n roomkleurige pens en die kleinwindswael ’n swarte."

Coetzee sê albei soorte swaels word tydens die somermaande by die brug oor die Modderrivier op die R700 en ook by die brug oor die R64 by die Krugersdriftdam aangetref. Dit blyk nie of die trillings en verkeerslawaai ’n nadelige uitwerking op die swaels het nie. Solank daar genoeg vlieënde insekte is om te vang, is die swaels tevrede met hul blyplek.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.