On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Hoërskool Goudveld handhaaf oomblik van stilte ná matriekseun se dood

───   HEIDRÈ MALGAS 15:47 Tue, 02 Apr 2024

Hoërskool Goudveld handhaaf oomblik van stilte ná matriekseun se dood | News Article
Kobus van Zyl (17) is Paasnaweek in ’n ongeluk in die Noord-Kaap dood. Foto Facebook

“Kobus sal onthou word vir sy mooi menswees en sy baie grappe.”

Die familie, vriende, en medeleerders neem Maandag (8/4) afskeid van een van die matrikulante van die Hoërskool Goudveld  in Welkom. Kobus van Zyl (17) en sy vriend Hendro van Tonder was Sondag in ’n bakkie op die plaas Bestwood in Kathu in ’n ongeluk betrokke.

Van Zyl was nie net 'n grapjas nie, maar het ook aan atletiek, krieket en rugby deelgeneem. Willie Stolk, waarnemende skoolhoof, sê die skool sal môre (3/4) 'n oomblik van stilte hou waarna die skoolklok vir ’n rukkie gaan lui. 

"Vrydag (5/4) sal ons 'n huldeblyk lewer en 'n dominee sal met die kinders kom praat. Ons gaan ook vir hom kerse opsteek om sy lewe te vier.” Hy sê die skool het 'n baie spesiale leerder verloor met 'n hart van goud.

'n Huldeblyk word Vrydag (5/4) by die Hoërskool Goudveld in Welkom gelewer. Foto Facebook 

"Kobus sal onthou word vir sy mooi menswees en sy baie grappe. Hy het die vermoë gehad om mense om hom goed te laat voel, en dit was 'n voorreg om hom in ons midde te hê," sê hy.

Nadia Olivier, Kobus se graadhoof, sê sy is baie trots op Kobus se groei as mens sedert hy by die skool aangesluit het en dat hy 'n leemte in haar hart gelaat het.

‘Hy het nie net vir homself geleef nie’

Een van Van Zyl se onderwysers Leona Jacobs beskryf Kobus  as 'n rubberballetjie wat altyd gespring het. Sy gees en lewenslus was aansteeklik. Hy het nie net vir homself geleef nie, maar was altyd bereid om ander te help. "Ek sal hom onthou as my rondstuur-outjie in die klas, altyd gereed vir 'n grap en gereed om die juffrou en die hele klas aan die lag te kry," sê sy. 

Netwerk24 berig die omstandighede van die ongeluk word nog ondersoek. 

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.