On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

South Africa

Polisie gevra om optrede te verskerp weens ontvoerings in Gauteng

───   ZENANDE MPAME 12:11 Sun, 20 Sep 2026

Polisie gevra om optrede te verskerp weens ontvoerings in Gauteng  | News Article
Kempton Park word beskou as die brandpunt vir ontvoerings in Gauteng. Foto Verskaf

Die fokus sal na verwagting op Kempton Park en ander geïdentifiseerde brandpunte vir ontvoerings bly, terwyl owerhede in Gauteng maniere oorweeg om die provinsie se reaksie op die toenemende aantal ontvoerings te versterk.

Kempton Park is nou Gauteng se brandpunt vir ontvoerings met 76 gevalle wat tussen April en Junie vanjaar aangemeld is – vergeleke met 48 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dit is ’n styging van 58,3% en die gebied het nou die hoogste aantal aangemelde ontvoerings in die provinsie vir die tydperk.

Die statistieke is Vrydag (18/9) bekend gemaak op ’n vergadering van die Gautengse provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid. Daar is gefokus op die toenemende aantal ontvoerings, oorsake en impak daarvan op die provinsie. Gauteng het in dieselfde drie maande 2 367 ontvoerings aangemeld. Dit is meer as die helfte van die 4 638 otvoerings wat landwyd aangemeld is.


Die komitee sê die syfers vereis 'n dringende en gekoördineerde reaksie van wetstoepassingsagentskappe en die regering. Kommer het toegeneem ná die onlangse ontdekking van die liggame van verskeie vroue in die Ekurhuleni-metro.

“Hierdie syfers behoort as ’n wekroep te dien vir elke wetstoepassingsagentskap en elke vlak van die regering,” sê dr. Bandile Masuku, voorsitter van die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid. 

“Ontvoering kan nie as ’n geïsoleerde misdaad beskou word wanneer die tentakels daarvan strek tot kaping, georganiseerde misdaad, lospryse en die teiken van kwesbare mense nie.”

“Die komitee dring daarop aan dat ontvoerings in Gauteng die hoogste vlak van aandag geniet, insluitend intelligensie-insameling, verbeterde koördinasie tussen wetstoepassingsagentskappe, doelgerigte operasies in geïdentifiseerde probleemgebiede en nouer samewerking met gemeenskappe.”

Ondersoeke na die dood van die vroue duur voort en die owerhede kon nog nie bevestig of die sake met mekaar verbind kan word nie.


Dr. Tara Harris, kriminoloog en dosent aan die Universiteit van Pretoria, sê die publiek moet onderskei tussen inligting wat nodig is vir openbare veiligheid en operasionele inligting wat polisieondersoeke kan benadeel. Sy sê spekulasie oor of die sake met mekaar verbind kan word moenie inmeng met voortgesette ondersoeke nie.

 “Die polisie het ’n openbare veiligheidswaarskuwing uitgereik en vroue aangemoedig om meer waaksaam te wees en voorsorgmaatreëls te tref. Ons kan nie die polisie kritiseer wanneer hulle wettig alles doen wat hulle kan om hierdie sake te ondersoek nie,” sê sy,

OFM Nuus Zenande /dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.