Central SA
Planne in plek vir Kimberley se vier dae sonder water – VIDEO’S─── KEKELETSO MOSEBETSI 13:02 Fri, 05 Apr 2024

“Ons het ’n ooreenkoms met die Sol Plaatjie-munisipaliteit dat hulle sal verseker dat ons watertenks heeltyd vol water sal wees.”
Die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley het vinnig opgetree om maatreëls in plek te stel om te verseker dat pasiënte nie deurloop omdat die stad met ’n waterkrisis sukkel nie.
Die Sol Plaatjie-munisipaliteit het inwoners ingelig dat daar van Donderdag (4/4) om 18:00 tot Maandag (8/4) om 18:00 ’n wateronderbreking gaan wees as gevolg van herstelwerk aan vier groot lekkasies in die pypleiding van Riverton na Kimberley. Die uitvoerende hoof van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, dr. Esmé Olivier, het bevestig dat gebeurlikheidsplanne in plek is om te verseker dat die hospitaal nie gedurende hierdie tydperk geraak word nie.
“Ons het ’n ooreenkoms met die Sol Plaatjie-munisipaliteit dat hulle sal verseker dat ons watertenks heeltyd vol water sal wees. Hulle het ses toegewyde vragmotors wat daagliks van 07:00 tot middernag sal inkom om tenks te vul. Ons het ook bykomende toiletgeriewe wat droë chemikalieë gebruik, wat vir besoekers en pasiënte by ongevalle geplaas sal word,” het sy gesê.
Olivier het inwoners versoek om tydens besoekure met drinkwater te kom en het verder bevestig die besoekure sal tot 19:00 beperk word in ’n poging om water vir pasiënte en personeellede te bewaar.
Inwoners van Kimberley het maande lank al wateronderbrekings verduur as gevolg van pype wat voortdurend gebars het.
Die Mayibuye Dance Academy was verlede jaar weke lank sonder water nadat daar beweer is dat die Sol Plaatje-munisipaliteit geweier het om die pyp te herstel.
Raadgewende ingenieursmaatskappy Bigen Africa se projekleier, Rickus Rossouw.
Die leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, Wynand Boshoff, het ook voorheen kommer uitgespreek oor noodsaaklike operasies wat nie by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal uitgevoer kon word nie weens ’n watertekort nadat hy verlede jaar die hospitaal besoek het.