On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Werk begin eindelik aan haglike R70 tussen Rosendal, Senekal

───   ZENANDE MPAME 13:51 Tue, 11 Jun 2024

Werk begin eindelik aan haglike R70 tussen Rosendal, Senekal | News Article
Werk begin eindelik aan haglike R70 tussen Rosendal en Senekal. Foto verskaf

“Motoriste wat tussen die twee dorpe reis, word aangeraai om die S1227 en S665 as alternatiewe roetes te gebruik.”

Gebruikers van die R70 tussen Rosendal en Senekal word gevra om die res van die jaar geduldig te wees nadat herstelwerk aan die gehawende pad uiteindelik begin het.

Die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer het Maandag (10/6) amptelik begin met bouwerk tussen die twee dorpe. Die beraamde voltooiing is in Desember vanjaar.

Motoriste wat tussen die twee dorpe reis, word aangeraai om die S1227 en S665 as ompaaie te gebruik; ’n spoedgrens van 60 km/h moet gehandhaaf word op die 30km-gruisafwyking.

Herstelwerk op die R70 tussen Rosendal en Senekal. Foto verskaf

Die grondpaaie sal met skrapers en watervragmotors in stand gehou word vir die duur van die boubedrywighede en die sluiting van die pad, belowe Hillary Mophethe, departementele woordvoerder. “Die departement vra die publiek moet saamwerk en sal hulle amptelik inlig oor die opening van die pad.”

Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, het in sy provinsiale rede in Qwaqwa op Donderdag, 29 Februarie gesê die regering sal R1,9 miljard belê in die opgradering en instandhouding van paaie as deel van sy Township Revitalisation Programme en padinstandhoudingsprogram.

Die provinsiale regering het ook R125 miljoen vir grondpaaie dwarsoor die provinsie begroot aangesien grondpaaie belangrik is vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling, het die premier in sy toespraak gesê.

Die R70 is plek-plek meer gat as pad. Foto verskaf

“Die R70 tussen Rosendal en Senekal is uiters verswak en dit het die boeregemeenskap nadelig beïnvloed,” sê Riëtte Dell, Setsoto-raadslid en plaaslike plaasbewoner. “Die gemeenskap wat op landboutoerisme staatmaak vir inkomste het op verskeie maniere die nadele van daardie pad ervaar.

“Die boeregemeenskap hoop vir ’n pad van goeie gehalte met voldoende stormwaterdreinering wat jaarliks in stand gehou sal word sodat ons weer ’n reddingsboei kan hê vir ons ekonomiese aktiwiteite waar landbou en toerisme weer kan blom in die Oos-Vrystaat.”

Padtoegang het ’n ernstige probleem geword, en klein Vrystaatse dorpies leef en sterf weens toegang, meen Douglas Mason, lid van Rosendal se dorpskomitee. Dit het boere geraak tot ’n punt waar sekere vragmotormaatskappye weier om op die pad te ry, aangesien dit in ’n swak toestand is. Toerisme, handel, nooddienste, skoolbusse en taxi’s word ook benadeel.

Die reisblogger Lelo Boyana het verlede jaar net ná nuwejaar die pad gereis. Video: X/MissLeloB

Mason noem hulle het met prokureurs gesels, want as die dorpskomitee is hulle uitgesluit van inligting van kontrakteurs. “Dis nie hoe dinge gedoen moet word nie,” meen hy.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.