On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

VIDEO: ‘Vroue kan die stilte rondom mishandeling verbreek’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:38 Thu, 08 Aug 2024

VIDEO: ‘Vroue kan die stilte rondom mishandeling verbreek’  | News Article
Brig. Herna Els, Lt.kol. Thabo Covane en Lt.kol. AJ Cilliers. Foto: Heidrè Malgas

“Ons het forensiese maatskaplike werkers – professionele persone met gespesialiseerde opleiding in forensiese assessering – beskikbaar om jong slagoffers en getuies by te staan.”

Die polisie doen dié Vrouemaand ’n beroep op vroue om voorvalle van geslagsgeweld en seksuele misdrywe aan te meld en so die kringloop van mishandeling te verbreek. 

“Die polisie het vandeesmaand bewusmakingsveldtogte om hulde te bring aan die 20 000 vroue wat in 1956 na die Uniegebou opgeruk het om te betoog teen die uitbreiding van paswette na vroue,” sê brig. Herna Els, hoof van die provinsiale eenhede vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe.

As vrou is Els besonder passievol daaroor om vroulike slagoffers dwarsoor die Vrystaat en die land aan te moedig om na vore te kom en gevalle van mishandeling aan te meld. “Daar is uitgebreide ondersteuning en bystand beskikbaar, en die polisie is gereed om te help waar ook al nodig. Elke polisiestasie het toegewyde personeel.”

‘Hierdie eenhede sluit spesialisondersoekbeamptes in’

Volgens Els het die Vrystaat 18 spesialiseenhede vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS), versprei oor 111 polisiekantore, met 200 beamptes wat tot hierdie sake verbind is. Hierdie eenhede sluit spesialisondersoekbeamptes in wat opgelei is om sulke sensitiewe sake te hanteer.

Els moedig vroue aan om standpunt in te neem en moedig die vroue wat dalk bang is, selfvertroue kort of vasgevang voel in situasies van mishandeling om na vore te tree en hul misbruikers aan te meld.

“Die doel van die verhoogde bewustheid van geslagsgeweld, mishandeling en seksuele misdrywe is om vir slagoffers ’n omgewing te skep waar hulle meer gemaklik kan voel om hierdie misdade aan te meld.

‘Die meeste polisiekantore in die Vrystaat het slagoffervriendelike geriewe’

“Ons het forensiese maatskaplike werkers – professionele persone met gespesialiseerde opleiding in forensiese assessering – beskikbaar om jong slagoffers en getuies by te staan,” voeg sy by.

Boonop het die meeste van die 111 polisiekantore in die Vrystaat slagoffervriendelike geriewe, wat verseker dat kwesbare individue sensitiewe sake in ’n private omgewing, weg van die openbare oog, kan aanmeld.

“As vroue kan ons die stilte rondom mishandeling verbreek,” moedig Els vroue aan.

‘As ’n slagoffer nie ’n verslag kan indien nie, kan dit namens die slagoffer gedoen word’

As jy weet dat ’n vriend of familielid mishandel word, moet jy dit aanmeld. Daar is geen beperking op die tydsraamwerk waarin mishandeling aangemeld kan word nie. As ’n slagoffer nie by ’n polisiekantoor kan uitkom of ’n verslag kan indien nie, kan dit namens die slagoffer gedoen word.

Om enige vorm van mishandeling aan te meld, is daar kontaknommers beskikbaar. As jy ’n wenk oor mishandeling wil deurgee, bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Om geslagsgeweld by die beheersentrum aan te meld, bel 080 048 2482, of bel *120*7867#/SMS “help”.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.