Central SA
Bloemfonteinse museum bied kans om liefde vir argeologie uit te leef─── KAREN VAN DER BERG 11:09 Fri, 06 Dec 2024

’n Stokperdjie, ’n belangstelling en ’n bietjie hulp van kundiges het die wêreld van argeologie vir ’n jong seun van Bloemfontein ontsluit.
Damon Vesely (13) versamel die laaste paar jaar glasbottels, wat hy self uitgrawe. Hy het al heelwat interessante bottels in sy versameling.
Dié gr. 7-leerling van St. Andrews se pa, Stefan Vesely, sê hulle is lief vir die Nasionale Museum en besoek dit graag.
Die museum sê intussen in ’n verklaring daar is hernieude belangstelling in argeologie omdat dit ’n geleentheid bied om meer van Suid-Afrika se ryk en komplekse geskiedenis te leer. “Dit is vir ons lekker as leerlinge belangstelling in dié veld toon.”
‘Ek het ook bottels wat radioaktief is’
Damon sê sy liefde vir die glasbottels het begin toe hy eenkeer by die skool op ’n unieke bottel afgekom het op ’n plek waar die skool aanbouings gedoen het. Van toe af het sy versameling tot meer as 50 bottels toegeneem. “Sommige het ek gekoop en ander het ek self opgegrawe.”
Damon hou daarvan om die glasbottels te bestudeer omdat dit vir hom ’n lekker uitdaging is om die bottels te identifiseer. Die interessantste bottel wat hy al gevind het, is ’n bloue waarin gaskoeldrank verkoop is. Dis dekades oud en binne-in is ’n albaster wat keer dat die gas ontsnap.
“Ek het ook bottels wat radioaktief is weens hulle kleurverandering,” vertel hy, “maar moenie bekommerd wees nie, hulle is nie gevaarlik nie!”
Damon by sy interessante bottel met die albaster in. Foto: Stefan Vesely
Damon is nog nie seker watter beroep hy eendag wil volg nie, maar argeologie kan ’n moontlikheid wees.
“Die nasionale museum bied wonderlike geleenthede vir kinders om hul liefde vir iets uit te leef,” sê hy. “Mense moet daar uitkom en dit besoek. Dit is ’n wonderlike plek wat my baie gelukkig maak en help dat ek kennis opdoen.”