On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-moordverhoor: Albei families hoop geregtigheid sal seëvier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:42 Fri, 09 May 2025

Klerksdorp-moordverhoor: Albei families hoop geregtigheid sal seëvier | News Article
Die moordverhoor van Wernich Botha, sal na verwagting op 2 September voortgaan. Foto: Charne van der Merwe

Die moordverhoor van Wernich Botha ná die Klerksdorp-parkeerterreinaanranding en dood van Hilton Pretorius, sal ná drie dae van getuienis weer in September vanjaar voortgesit word.

Op die tweede dag van die moordverhoor ná die Klerksdorp-parkeerterreinaanranding, het die staat aangevoer dat hoewel die oorledene die beskuldigde gedreig het en gesê het dat hy hom gaan aanrand, hy nooit die dreigement deurgevoer het nie.

Die moordverhoor van Wernich Botha het Woensdag (7/5) in die Klerksdorp-streekhof byna 18 maande ná die voorval begin.

Botha staan tereg op aanklag van moord op Hilton Pretorius en poging tot moord op PW Roos.

Caswell Ntoyi, die staatsaanklaer het tydens sy her-ondervraging aan Van Der Merwe, Botha se eks-meisie, gesê dat hoewel Pretorius na die Cadillac 60’s pub gery het, waar Botha was, hy geen stappe gedoen het om hom fisies leed aan te doen nie.

“Daar was geen rede om hom te slaan nie,” het Ntoyi gesê en beklemtoon dat Botha alleen gewelddadig opgetree het.

Van der Merwe het aan die hof gesê dat sy Pretorius persoonlik ken en hom al voorheen in gevegte gesien het.

Sy het bygevoeg dat sy, gebaseer op sy lyftaal, die manier waarop hy geloop het en hoe hy met sy klere gemaak het terwyl hy na Botha gestap het, hom wou aanrand.

Volgens vroeëre getuienis deur Van der Merwe, is die geweld voorafgegaan deur 'n konfrontasie by haar huis. Botha, wat in Somalië gewerk het, het onverwags – twee weke vroeër as beplan – huis toe gekom om haar te verras. In plaas daarvan het hy Pretorius in haar bed gevind.

Van der Merwe het getuig dat Botha Pretorius twee keer geslaan het.

Boodskappe as dreigemente gesien

Sy het ook aan die hof gesê dat Pretorius daardie dag verskeie dreigende boodskappe vir haar gestuur het, waarin hy gesê het dat hy “Botha gaan kry” en dat hy “niks meer het om te verloor nie”.

Volgens Van der Merwe het sy al hierdie boodskappe as dreigemente van Pretorius gesien het, wat aandui dat hy beplan het om Botha aan te val.

Later daardie dag het ’n gewelddadige konfrontasie by die kroeg ontvou.

Natasha Fisher, nou Van der Merwe, by die hof. Foto: Charne van der Merwe

Advokaat Hennie du Plessis, wat Botha verteenwoordig, het aangevoer dat sy kliënt uit selfverdediging opgetree het, met verwysing na die dreigende boodskappe wat Pretorius gestuur het.

Van der Merwe is gevra of sy glo die rede waarom Botha vir Pretorius geslaan het toe hulle naby genoeg aan mekaar was, was omdat hy gedink het dit was “twee teen een”, dat hy “outnumbered” was deur Pieter Joubert en Pretorius. Joubert het saam met Pretorius daar aangekom.

Van der Merwe het gesê sy glo Botha het uit selfverdediging opgetree toe Pretorius en Joubert na hom toe gekom het. Sy glo die vuishou wat Botha vir Pretorius toegedien het, was ’n redelike reaksie.

Skermskoot van ‘knuckle duster’ gewys

In die hof het Du Plessis verwys na videobeelde van die woordewisseling, wat volgens hom wys dat Botha nie net homself verdedig het nie, maar ook deur twee ander mense aangeval is terwyl hy probeer het om Pretorius te help, wat reeds op die grond gelê het.

Du Plessis het gesê een van die mense wat Botha aangeval het, het ’n “knuckle duster” gedra – en 'n skermskoot van die video met die knuckle duster aan haar gewys.

Volgens Van Der Merwe het sy nie die ander aanvallers gesien nie, omdat haar aandag by Pretorius was.

Die verdedigingspan het ook ’n sirkulerende stemnota aangespreek wat ná die woordewisseling in talle groepe gedeel is.

Die boodskap, wat na bewering deur Roos versprei is, het beweer dat Botha 'n huursoldaat in die buiteland is, iemand wat kon veg, en dat Botha, voordat hy Pretorius geslaan het, ook drie ander mense gedurende die nag aangerand het.


Van der Merwe het hierdie bewerings in die hof teëgespreek en gesê dat dit onwaar is en dat Botha nie ’n huursoldaat is nie en niemand anders deur die nag aangerand het nie.

Die verhoor sal na verwagting op 2 September voortgaan.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.