Central SA
Ongeluk buite Kimberley eis leerder, ouers en broer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Tue, 27 May 2025

Die Noord-Kaapse polisie vra die publiek moet help met inligting ná ’n grusame ongeluk wat vier gesinslede se lewe geëis het.
Die Verkoper-gesin van Kimberley is Saterdag (24/5) omstreeks 20:30 in ’n botsing op die R31-pad naby Platfontein buite die stad dood nadat hul voertuig in ’n trompop botsing met ’n vragmotor betrokke was, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.
Zahara Verkoper (14), ’n gr. 9-leerder aan die Kimberley Girls’ High School, is op slag dood saam met haar ouers en jongste broer. Haar ander broer (10) is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.
Die skool het Maandag die nuus met die gemeenskap gedeel in ’n huldeblyk op sy Facebook-blad. Die nuus is “verwoestend” en het die skoolgemeenskap diep geraak.
Op pad na Barkly-Wes waar skoolkoor sou optree
“Ons betuig ons innige meegevoel met Zahara se familie, vriende, klasmaats en opvoeders. Ons dink aan almal wat geraak is gedurende hierdie tyd van geweldige verlies.”
Volgens die skool was Zahara en haar gesin na bewering Saterdagaand op pad na Barkly-Wes, waar sy saam met die skoolkoor sou opgetree het.
Kock sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek nadat die vragmotor met die Verkoper-gesin se Mitsubishi-SUV gebots het.
“Vier insittendes van die Mitsubishi – ’n gesin wat die pa (35), ma (38) en twee kinders insluit – is oorlede, terwyl ’n ander kind vir mediese behandeling hospitaal toe geneem is,” het Kock gesê.
Vragmotorbestuurder is ongedeerd
Die vragmotorbestuurder, wat alleen gereis het, was ongedeerd.
Hy sê die name van die ander familielede gaan in hierdie stadium nie bekend gemaak word nie.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement respekteer die gesin se versoek om privaatheid totdat alle uitgebreide familielede in kennis gestel is.
“Die Noord-Kaapse departement van onderwys wil egter ons meegevoel betuig aan die familie en die oorlewende seun en hom alle sterkte toewens. Dit is ’n uiters tragiese voorval, en ons harte gaan uit na die leerders en onderwysers van Kimberley Girls’ High School, wat in diepe rou verkeer oor Zahara, ’n slim en belowende leerder,” sê Van der Merwe.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat die ongeluk gesien het of wat inligting het om speur-ao. Thabang Kamolane te kontak by 082 302 0407.
Kock het bevestig dat die ondersoek voortduur.