On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Oudpolisieman aangekeer vir beweerde korrupsie in Noord-Kaap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:41 Thu, 29 May 2025

Oudpolisieman aangekeer vir beweerde korrupsie in Noord-Kaap | News Article
Alle verdagtes is op borgtog vrygelaat wat wissel tussen R2 000 en R10 000. Foto verskaf

’n Voormalige polisiebeampte van die Noord-Kaap sal na verwagting Donderdag (29/5) om borgtog aansoek doen nadat hy aangekeer is op verskeie aanklagte van beweerde korrupsie.

Lt.kol. Pieter Andries Nel van die Upington-polisiekantoor is Woensdag (28/5) tuis deur die Valke se eenheid teen ernstige korrupsie in hegtenis geneem, op klagte van bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.

Volgens Thebe het Nel op Upington as hoof van finansiële dienste vir die polisie in die Z.F. Mgcawu-distrik gedien en was verantwoordelik vir die goedkeuring van betalings aan diensverskaffers, sowel as vir verblyf- en reiskoste van polisiebeamptes in Gordonia.

Die aanklagte teen lt.kol. Pieter Andries Nel van die Upington-polisiekantoor sluit in bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Foto verskaf

“Van 2022 tot 2024 het hy na bewering bedrieglike betalings van meer as R1,2 miljoen geskep en goedgekeur, wat toe na bewering in sy persoonlike bankrekening gedeponeer is.”

Nel is tans in aanhouding in afwagting sy formele borgtogaansoek.

In ’n ander bedrogsaak moet ses verdagtes weer Maandag (2/6) in die Kimberleyse landdroshof verskyn op aanklagte van die beweerde oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery.

Motlalepule Elia Selemela, voormalige hoof van die departement van paaie, vervoer en openbare werke, Ruth Palm, voormalige waarnemende hoof van dieselfde departement, Lorencia Crause, Louis Adriaan van Niekerk, Edward Charles Petzer, en Moyahi Winston Modisa, almal voormalige direkteure van Babereki Consulting, het Woensdag (28/5) verskyn, sê Thebe.

Hul hofverskyning volg op hul inhegtenisneming deur die Valke, wat lasbriewe van J50 in Kimberley en Kaapstad uitgevoer het.

“Na bewering het Selemela in Augustus 2005 onwettig ’n konstruksiekontrak vir ’n nuwe psigiatriese hospitaal aan Vista Park/Joh Arch Investment toegeken, waarna die projek in September 2005 sou begin het.”

Palm het glo ’n betaling van R36 miljoen vir die projek goedgekeur sonder om verkrygingsprotokolle na te kom.

Die Valke het lasbriewe van J50 in Kimberley en Kaapstad uitgevoer. Foto verskaf

Thebe sê hoewel die beraming vir die projek R297 miljoen was, het die projekkoste eindelik meer as R1 miljard beloop weens swak vakmanskap, vertragings, sloping vir remediërende werk en veranderinge in kontrakteurs.

Hy sê die voormalige direkteure van Babereki Consulting word vervolg nadat hulle na bewering R51 miljoen van die departement ontvang het, ten spyte daarvan dat daar geen wettige kontrak in plek was nie.

Alle verdagtes is op borgtog vrygelaat, wat wissel tussen R2 000 en R10 000.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.