On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Wateronderbreking ‘raak Emfuleni-inwoners nie juis nie’

───   ZENANDE MPAME 10:01 Tue, 03 Jun 2025

Wateronderbreking ‘raak Emfuleni-inwoners nie juis nie’ | News Article
Wateronderbreking raak Emfuleni-inwoners nie juis nie. Foto: Facebook

Inwoners van die Vaaldriehoek en Noord-Vrystaat sê die beplande 16 dae lange wateronderbreking, wat tot Saterdag 14 Junie duur, raak hulle nie.

Die onderbreking is beplan sodat Randwater evaluerings en skoonmaakwerk aan die Sasolburg-reservoir kan uitvoer, en sou inwoners van Metsimaholo, Ngwathe en Emfuleni geraak het.

Volgens ’n gesamentlike verklaring deur die munisipaliteite en die waternutsmaatskappy sal die aanvanklike impak op die watervoorsiening aansienlik minder wees as wat voorspel is.

“Die water is nie afgesny nie en ons is onseker of dit nog gaan gebeur,” sê Sheila Reason, ’n inwoner van Vanderbijlpark. “Ons ervaar lae druk, maar ons het steeds water.

Die aanvanklike impak op die watervoorsiening sal aansienlik minder wees as wat voorspel is. 

“Ons hou egter steeds die water wat ons reeds opgegaar het, net ingeval die krane opdroog, want dit is regtig moeilik om water te kry wanneer dit afgesny word.”

Die eerste fase van Rand Water se infrastruktuur-instandhoudingswerk is Maandag (2/6) afgehandel, nadat die grootmaat-watervoorsiener Donderdag begin het om sy stelsel te diens. Dit het tot ontwrigtings in Gauteng gelei.

Die projek sal na verwagting tot in Julie voortduur. Die waternutsmaatskappy sê die werk is nodig om die betroubaarheid en doeltreffendheid van die aanleg te verbeter, en waterwaens is na geraakte gebiede gestuur.

Volgens die verklaring sal die volgende gebiede in Emfuleni nie deur die onderhoud geraak word nie: die Bedworth Park-meter, Vanderbijlpark-reservoirmeter en die Sharpeville-meter.


In Metsimaholo sal die Sasolburg-meter en in die Ngwathe-munisipaliteit die Heilbron-meter wel geraak word, en daar sal geen water na hierdie meters gepomp word vir die duur van die skoonmaakwerk nie.

“Randwater bly verbind tot deursigtige en proaktiewe kommunikasie,” sê Makenosi Maroo, woordvoerder. “Alle munisipale kliënte is vooraf ingelig oor die beplande instandhouding om hulle kans te gee om voor te berei en teenmaatreëls te tref.

“Ons verstaan die ongerief wat die werk kan veroorsaak, en vra opreg om verskoning aan enige geraakte inwoners.”

Randwater werk hard daaraan om die instandhouding binne die gestelde tyd af te handel en om volle funksionaliteit so vinnig en doeltreffend moontlik te herstel.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.