On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Weduwee bevrees ná vrylating van man se vermeende moordenaars

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:25 Sun, 08 Jun 2025

Weduwee bevrees ná vrylating van man se vermeende moordenaars | News Article
Hendrik Venter. Foto: Maroela Media

Die weduwee van ’n vermoorde Noord-Kaapse boer voel nie meer veilig op die plaas waar haar man byna ses maande gelede vermoor is nie, nadat sy vermeende moordenaars uit aanhouding vrygelaat is.

Die saak rakende Hendrik Venter (81), ’n boer van Kuruman, is voorlopig van die hofrol verwyder.

Venter is in September verlede jaar wreed op sy plaas vermoor. Hy het sy eiendom, geleë tussen Kuruman en Hotazel, omstreeks 08:30 verlaat om lone vir sy werkers te betaal. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig ontdek, met ernstige kopbeserings, het Cherelle Ehlers. polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

“Die familie is uiters teleurgesteld. Hulle kan nie meer hul ma, Undine (82), vir ’n oomblik alleen op die plaas los nie,” sê Willie Aucamp, nasionale woordvoerder van die DA en die familie se woordvoerder.

Hendrik Venter se begrafnis in Oktober 2024. Skermgreep: Facebook

“Wanneer ’n familielid nie by die tannie op die plaas kan wees nie, moet sy op kort kennisgewing na ’n huis in ’n aftreeoord, wat hulle op die dorp aangeskaf het, of na haar kinders toe verskuif word. Dit veroorsaak groot ontwrigting vir haar.”

Aucamp het die DA se diepe teleurstelling uitgespreek dat die aanklagte van moord teen die beskuldigdes, onlangs voorlopig in die Kuruman-landdroshof teruggetrek is.

“Hierdie voorlopige terugtrekking blyk die gevolg te wees van ’n gebrekkige polisiedossier en substandaard ondersoekwerk. Die DA het reeds die Noord-Kaapse polisiekommissaris, lt.kol. Koliswa Otola, gekontak om hierdie saak dringend aan te spreek. Ons is ook in gesprek met verteenwoordigers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Kimberley.”

Hy het bygevoeg dat hulle voortdurend met die Venter-familie kommunikeer om hulle op hoogte te hou van enige ontwikkelinge. “Hierdie hele situasie beklemtoon weereens die dringende behoefte aan die DA se voorstel dat plaasmoorde en -aanvalle as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer word, en vir die onmiddellike stigting van gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede om sulke voorvalle te voorkom.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die NVG daarvan beskuldig dat hulle ’n “skandelike onreg” gepleeg het deur die moordsaak van die hofrol te verwyder.

LEES OOK: Kuruman-boer se moordsaak van rol geskrap

“Die besluit om die saak te verwyder, het nou daartoe gelei dat die beskuldigdes vrygelaat is hangende verdere ondersoek,” het Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, gesê. Hy het opgemerk dat senior aanklaers voorheen maande lank daartoe verbind was om die saak te eskaleer weens die erns daarvan.

Volgens die regsfirma Duvenhage en Van der Merwe Inc., wat namens die Venter-familie optree, doen die familie ’n beroep op die NVG en die Valke om dringende korrektiewe stappe te doen om te verseker dat geregtigheid nie net geskied nie, maar ook gesien word dat dit geskied – met die erns wat die situasie vereis.

Die firma het beklemtoon dat die tydlyn van hofverskynings ’n kommerwekkende patroon van herhaalde vertragings en administratiewe mislukkings toon.

Kuruman-boer se moordsaak van rol geskrap | News Article

Hendrik Venter. Foto: Maroela Media

Die saak is aanvanklik in Januarie vanjaar uitgestel, in afwagting van instruksies van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV). “Die DOV het hierdie instruksies op 21 Februarie uitgereik, maar die saak is weer vertraag,” sê die regsfirma aan OFM Nuus.

“Die staat het nie op die DOV se leiding gereageer nie omdat die ondersoekbeampte nie gekontak kon word nie.”

Die dossier en die staat se antwoord is uiteindelik op 2 April by die DOV ingedien, maar die saak is weer eens uitgestel.

Diep kommer uitgespreek

Volgens die firma het die Staat op 30 April verdere instruksies van die DOV ontvang, insluitend ’n versoek om bykomende verklarings. Die aanklaer het egter versuim om te spesifiseer watter verklarings vereis is of watter besonderhede verduideliking benodig.

Die regsfirma het diep kommer uitgespreek dat die saak van die rol verwyder is “onder omstandighede wat ’n ernstige ineenstorting in aanklaer- en geregtelike ywer weerspieël”.

“Die landdros het, ten spyte van die ernstige aard van die beweerde oortreding, die publiek se wettige verwagtinge vir aanspreeklikheid dwarsdeur die saak heeltemal geïgnoreer. Die uitkoms het die familie en breër gemeenskap nie net diep ontnugter gelaat nie, maar ook belas met die ondraaglike werklikheid dat die beskuldigdes nou vry is sonder gevolge.”

Die regsfirma het bygevoeg dat die uitkoms ’n verwoestende slag is vir ’n familie wat reeds oorweldig is deur hierdie geweldige verlies en trauma.

Minagting vir openbare kommer

Hulle het ook kommer uitgespreek oor die feit dat, ten spyte van die vroeëre versekering van senior lede van die aanklaergesag dat so ’n uitkoms sterk teengestaan sou word, gegewe die erns van die aanklagte en sterk openbare belang, geen sodanige teenkanting gematerialiseer het nie.

“Net so kommerwekkend is dat ’n senior aanklaer aanbeveel het om die saak na die streekhof oor te dra, maar dit is nooit gedoen nie. Hierdie versuim beklemtoon verder ’n ontstellende gebrek aan dringendheid en ’n minagting vir openbare kommer.”

Foto: Andries Groenewald/Landbou.com

“Ons bly daartoe verbind om geregtigheid vir Hendrik Venter na te streef, en ons vertrou dat die saak met die erns en dringendheid wat dit vereis, herregistreer sal word,” het die firma gesê.

AfriForum het beklemtoon dat die Venter-saak ’n groter patroon weerspieël wat gekenmerk word deur nalatigheid en ’n duidelike afwesigheid van politieke wil om plaasaanvalle aan te pak.

Bitter boodskap aan slagoffers

“Die versuim om die verwydering van die saak van die rol teen te staan, ten spyte van planne om dit na die streekhof te eskaleer, stuur ’n bitter boodskap aan slagoffers – dat hul lyding nie ’n prioriteit is nie,” het Broodryk gesê.

“Ons bly daartoe verbind om geregtigheid vir Hendrik Venter na te streef, en ons vertrou dat die saak met die erns en dringendheid wat dit verdien, heraanvaar sal word,” sê die firma.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.