On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Projek laat Bethlehem sy trots herwin

───   11:09 Wed, 23 Jul 2025

Projek laat Bethlehem sy trots herwin | News Article
Die pragtige fontein in Kerkstraat is nou weer ’n sieraad in Bethlehem, die hoofdorp van die Oos-Vrystaat. Foto verskaf

Dit gons behoorlik in Bethlehem oor ’n nuwe inisiatief, Maak Bethlehem mooi (MBB - Make Bethlehem beautiful in Engels, Holokomela Bethlehem in Sotho), om die pragdorp in sy oorspronklike glorie te herstel.

En danksy Bethlehemse sakelui en inwoners wat kreatief agter die skerms werk en beplan kon inwoners die afgelope tyd waarneem hoe “seeroogskandes” in die dorp aangepak word. Slaggate, die Knobelbrug en Lindley se ingang, skoonmaakprojekte en dorpsingange is reeds verbeter. Die middedorpse spuitfontein is weer ’n sieraad soos voorheen. Boonop inspireer dié positiewe projekte ook ander Bethlehemiete om self betrokke te raak.

Die agteruitgang en toenemende verval in Suid-Afrika is nie meer nuus nie – dit is ook ’n noodkreet in bykans alle Vrystaatse dorpe. Dit is ná meer as 30 jaar duidelik dat die spanne wat die stuurwiel in munisipaliteite vashou en die ratte glad moet laat loop, tekort skiet. Die ekonomie, onderwys, maatskaplike toestande, die staat se mediese dienste en dienslewering op munisipale en nasionale vlak verval teen ’n ontstellende tempo.

Voorheen uitstekend bestuur

In Bethlehem se geval was die vroeëre munisipaliteit ’n toonbeeld van uitstekende bestuur en veral kredietwaardigheid. Die nuwe regerende party het ’n munisipaliteit oorgeneem met miljoene rande krediet in die bank en kon dit nie vorentoe vat nie. Redes vir die onvermoë om dorpe vorentoe te neem, is talryk.

MBB is ’n onafhanklike, nie-politiese en nie-winsgewende inisiatief wat gemeenskapsgerig is. Agter die inisiatief is bekwame sakemanne en kundiges wat probeer red wat te redde is. Die MBB-projek het ’n positiewe werkverhouding met die Dihlabeng-munisipaliteit wat inwoners en veral getroue belastingbetalers weer moed gee.

“In selfdoenprojekte wat gemeenskapsgerig is, is daar vir mense weer hoop. Selfdoen is beter as niksdoen. Niksdoen is om die groenlig te gee vir verdere verval en agteruitgang,” sê Jacques Windt, een van die inisieerders en dryfvere van die MBB-projek.

Tseki Tseki, uitvoerende burgemeester van die Dihlabeng-munisipaliteit, en Jacques Windt, ’n dryfveer van die MBB-projek, by die fontein wat weer pragtig herstel is. Foto verskaf

“Elkeen in Bethlehem, Bohlokong en Bakenpark kan iets vir MBB beteken, tot voordeel van die dorp. Hoop word nie geskep deur groot, indrukwekkende dade wat miljoene rande beloop nie. Hoop is ’n werklikheid waar inwoners en belastingbetalers tot die besef kom dat elke geringe bydrae ’n verskil kan maak.

“Die skenk van ’n sakkie teermengsel of meer vir die slaggate in jou straat, die netheid van sypaadjies voor huise, verf, die beskikbaarstelling van toerusting, donasies van wat nodig is, geldelike hulp en vele ander bydraes kan ’n groot verskil maak.”

Die dorp het sy mooi verloor. Bethlehem was in 1989 met die viering van sy 125ste bestaansjaar op ’n besonderse hoogtepunt. Dit was die nasionale Modeldorp van die Jaar wat verkeersveiligheid betref en Bethlehem het geskitter deur jaarliks die Administrateurstrofee van die Vrystaat vir medium tot groot dorpe te wen.

Drie Bethlehemse vroue het dit op hulle geneem om ’n onwettige stortingsgebied skoon te maak. Foto verskaf

Pieter Olivier, stadsklerk vir baie jare, sê in 1989 is die nuwe paviljoen by Goblepark gebou sowel as die openbare biblioteek. Die atletiekbaan by Goblepark is gemoderniseer, die twee eenrigtingstrate, Muller- en Kerkstraat, is begin vir beter verkeersvloei en die fontein in die middedorp is gebou as simbool van die dorp se waterrykheid, ook danksy die Lesotho-Hooglandprojek. Die strate is elke twee of drie jaar herseël.

“Talle projekte het van Bethlehem ’n spogdorp gemaak. Dit is regtig verblydend dat ’n projek soos die MBB reeds soveel gedoen het om die dorp se statuur in ere te herstel. Ek wens hulle sterkte en voorspoed toe,” sê Olivier.

Volgens Windt is een van die belangrikste projekte van die MBB die herstel van slaggate. Dit is iets wat almal raak. Die toestand van paaie in byvoorbeeld Bohlokong is skrikwekkend en dit geniet ook die aandag van die BMM. Die herstel van slaggate moet gemeenskapsgedrewe wees. Om hierdie rede is dit nodig dat plaaslike ondernemings, verskaffers en inwoners dit moet ondersteun met bydraes en geldelike hulp. Inwoners kan ook as straatbewoners saamstaan en eienaarskap aanvaar van hul straat, in samewerking met MBB.

 Werkers vat ’n blaaskans nadat hulle gewerk het om slaggate te herstel. Foto verskaf

Tseki Tseki, uitvoerende burgemeester wat die opening van die “nuwe” fontein in Kerkstraat besoek het, sê dit is kragtig as ’n gemeenskap saamwerk. “Ek het waardering vir belanghebbendes, sakelui en inividue wat bygedra het om die fontein te herstel deur saam te werk.”

Ander inwoners het ook soos volg op die projek gereageer:

  • Johan Oberholzer: Baie dankie, Jacques en Val Wind en almal wat betrokke was by die herstel van die fontein. Dankie ook van ons kant aan almal wat kom help het om die Môrelig-parkie skoon te maak. Ons sou dit ook nie sonder Radio Maluti FM se Phillip en Wilma Heymans as afgevaardigdes kon doen nie.
  • Suna van der Merwe: Trots op julle! Dankie.
  • Terry Mthembu: Ek bid opreg dat die mooimaak van die dorp blywend sal wees vir die generasies wat kom. Bethlehem is waarlik mooi as ons sorg dat dit so bly.
  • Nanki du Plessis: Ek het nie gedink ek gaan die dag sien dat dit weer so pragtig sal lyk nie, sjoe! Dit maak mens trots! Baie, baie dankie. Dit beteken baie vir ons ou Bethlehemiete wat onthou hoe mooi Bethlehem altyd gelyk het.
  • Peter van Reenen: Fantasties! Baie geluk aan almal – dit is ’n uitstekende insiatief. Dit is bestem om trots na Bethlehem terug te bring.
  • Jabulani Vilakazi: Dis mos Bethlehem soos wat ek hom ken.
  • Barend la Grange: Fantastiese werk. Julle inspireer.

Trotse werkers by die fontein waar hulle hard gewerk het. Foto verskaf

Kornel Smith, ’n sakeman van Bethlehem, moet die eer kry vir sy bydrae aan die BMM om die magdom rotte by die fontein in Kerkstraat die stryd aan te sê in wat inwoners skertsend die “Rattlefield at the fountain” noem. Die rotteplaag kom al jare en dié knaagdiere het in hul honderde hier rondbaljaar. 

Ook die res van die middedorp is vanuit hul skuilplekke geteister. Met behulp van Smith, van Integripesm, en gewapen met wetenskap, ’n strategie en suksesvolle plaagbevegtingsvaardighede is die rotte op hul knieë gedwing en die fontein uiteindelik rotvry.

Die MBB het volgens die span agter die projek geen winsmotief nie en alle geldelike bydraes is slegs vir die opheffing van Bethlehem. Die geldelike bestuur van MBB is deursigtig. Daar word onderneem om gereeld hieroor in die sosiale media te berig met foto’s en die vermelding van donateurs.


Inwoners word aangemoedig om betrokke te raak. “Borg die herstel van ’n slaggat voor jou huis. Skenk ’n sakkie of teermengsel teen sowat R115 per sakkie. Gee ’n geldelike bydrae. Kontak die BMM om hulp te vra, verval aan te meld of self hulp aan te bied.”

Navrae kan gerig word aan die MBB by 082 473 4513 of 073 249 1330.

OFM Nuus/Susan Maré cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.