On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater agter tralies wat glo stiefdogter (8) wou verwurg

───   11:57 Fri, 15 Aug 2025

Vrystater agter tralies wat glo stiefdogter (8) wou verwurg | News Article
Foto ter illustrasie: udm.org.za

’n Man van Marquard doen na verwagting binnekort aansoek om borgtog nadat hy na bewering sy stiefdogter op Vrouedag om die lewe probeer bring het.

Die agtjarige het blykbaar Saterdag (9/8) in die straat in die Tshimong-omgewing gespeel toe haar stiefpa (31) daar aankom, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy het haar na bewering gevra om hom na ’n nabygeleë sloot te vergesel.

Nadat hy sy hemp uitgetrek het, het hy haar na bewering probeer verwurg. Sy het haar losgewikkel, halfkaal na haar ouma se huis gehardloop en haar vertel wat gebeur het, sê Mophiring.

“Die voorval is by die polisie aangemeld. Die slagoffer is hospitaal toe geneem om ondersoek te word, waar vasgestel is sy is nie seksueel aangerand nie.”

Borgtogaansoek verwag

Die slagoffer se ma het aan die polisie gesê sy en die verdagte het voor die aanval in ’n drinkplek sit en kuier. Hy is in hegtenis geneem en het Donderdag die eerste keer op aanklag van poging tot moord in Marquard se landdroshof voorgekom. Sy saak is tot volgende Donderdag uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog aansoek sal doen.

“Die polisie is diep bekommerd oor die toename in gevalle van kinderverwaarlosing, veral deur ouers wat uitermate baie tyd in drinkplekke deurbring,” sê Mophiring. “Sulke verwaarlosing het dikwels tragiese gevolge wanneer kinders onder meer beseer, gemolesteer of selfs vermoor word.”

Die polisie vra ouers moet verantwoordelik optree en toesien dat hul kinders veilig is. “Kinderverwaarlosing is ’n strafbare oortreding waarvoor oortreders tronkstraf opgelê kan word.”

Sowat 20 000 vroue het in 1956 opgeruk na die Uniegebou om teen die Paswette te betoog. Foto in openbare domein

Die voorval het op 9 Augustus plaasgevind, die dag waarop Suid-Afrikaners van alle agtergronde, rasse en kultuurgroepe Nasionale Vrouedag vier. Hierdie jaarlikse openbare vakansiedag herdenk ’n belangrike gebeurtenis in die land se geskiedenis: 9 Augustus 1956.

Op daardie dag het ’n groot groep vroue ’n veldtog begin om ’n einde te maak aan die Paswette wat destyds deur die regering afgedwing is. Kragtens die Paswette moes swart mense ’n spesiale “pas” of identiteitsdokument dra om in wit gebiede toegelaat te word. Dit het swart mense se bewegingsvryheid sterk beperk.

Die veldtog het begin toe sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om teen voorgestelde wysigings aan die Paswette te betoog. Die optog is gelei deur Sophia Williams-De Bruyn, Lilian Ngoyi, Rahima Moosa en Helen Joseph.

Geslagsgeweld ’n krisis

Ná die oorhandiging van verskeie petisies aan adv. J.G. Strijdom, die Unie se eerste minister, het die vroue sowat ’n halfuur stil buite gestaan en toe ’n proteslied begin sing.

Augustus word jaarliks as Vrouemaand gevier, wanneer die klem val op vroueregte. Tog neem geslagsgeweld en vrouemoord krisisafmetings aan. Van Januarie tot Maart vanjaar is 10 688 vroue landwyd verkrag, 0,3% meer as in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar vantevore.

Die Vrystaat het die naashoogste verkragtingskoers van 24,4 gevalle per 100 000 inwoners. Die Noord-Kaapse koers van 22,3 is die derde hoogste en Noordwes s’n van 18,3 die vierde hoogste.

OFM Nuus  cvs/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.