Central SA
Bloemfontein-dieretuin: Metro verloor glo byna R2 miljoen oor vermiste diere─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:53 Sun, 17 Aug 2025

Die Mangaung-metro het ’n verlies van R1,76 miljoen gely nadat 79 diere vermis geraak het.
Dit is in die ouditeur-generaal (OG) se 2023/24 ouditverslag bekend gemaak wat die verdwyning van die diere as ’n wesenlike onreëlmatigheid aangedui het.
Volgens die verslag het die verliese aan die lig gekom tydens ’n oudit wat in die 2021/22 finansiële jaar uitgevoer is toe dosyne diere by die dieretuin nie opgespoor kon word nie.
Die rekeningkundige beampte is reeds in November 2022 van die onreëlmatighede in kennis gestel, maar geen stappe is gedoen om dit op te los nie. Die saak is daarna na die openbare beskermer verwys wat die saak in Augustus 2024 begin ondersoek het.
Die geskiedenis van die Bloemfontein-dieretuin is egter lank onder die loep geneem. OFM Nuus het voorheen berig in 2019 het omgewingsbestuursinspekteurs en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ’n inspeksie uitgevoer en ontstellende toestande ontdek.
Diere is sonder behoorlike permitte aangehou, is mishandel en baie se gesondheid was swak. Gevolglik is die dieretuin gedwing om sy hekke in Desember 2019 te sluit en is sedertdien steeds gesluit.
In September 2024 het die hooggeregshof in Bloemfontein ’n dringende bevel uitgereik wat die dieretuin verbied om te heropen tensy streng voorwaardes nagekom word.
Ten spyte hiervan toon rekords dat sedert die dieretuin se sluiting R1 miljoen aanvanklik jaarliks toegeken is om die fasiliteit op te gradeer.
‘Stilweg tot nul aangepas’
Die toewysing is glo elke jaar stilweg tot nul aangepas wat die terrein verder laat agteruitgaan het. Die verslag het kommerwekkende bevindinge oor die lot van die diere uitgelig.
Sommige is deur die departement van ekonomiese, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake verwyder en na wildreservate in Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Oos-Kaap en die Vrystaat verskuif. Ander is deur die DBV weggeneem, terwyl ongemerkte voertuie ook by die verwyderings betrokke was.
Om sake verder te kompliseer, was vier ape en ’n maanhaarbobbejaan wat by die Johannesburgse Dieretuin geleen is, onder diegene wat tydens die sluiting verwyder is.
Hul gekombineerde waarde van R170 000 het bygedra tot die metro se verliese. Korrespondensie tussen amptenare toon die metro het later versoek die diere moet terugbesorg word. Dit het glo nooit gebeur nie.
Verlies van diere moet ondersoek word
Die OG het aanbeveel dat Mangaung die verlies van diere ondersoek, die oorblywende diere beveilig, moontlike diefstal by die polisie aanmeld en enige amptenare wat by finansiële wangedrag betrokke is, dissiplineer.
Teen die einde van die 2024-boekjaar is daar egter geen noemenswaardige vordering met hierdie aanbevelings gemaak nie.
Ten spyte van hierdie somber prentjie het die metro in Maart vanjaar aangekondig R6 miljoen is in sy 2024/25-aanpassingsbegroting opsy gesit vir die die Bloemfontein-dieretuin. Die heropening sal waarskynlik eers in 2028 kan gebeur.
OFM Nuus dg