Central SA
Hoërskool Sentraal se 120-jaar-fees bereik hoogtepunt─── 13:38 Fri, 22 Aug 2025

Die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein se 120-jaar-feesprogram bereik die naweek ’n hoogtepunt met die skool se verjaardagbal Saterdagaand (23/8) en ’n spesiale erediens Sondag by House of Bread in die stad.
Gerda Spies, die skool se mediaverteenwoordiger, sê dit volg op die skool se melodrama, ’n opelug lof- en-aanbiddingsaand Woensdag (20/8) en die Casaleggio-kultuuraand Donderdag. Die week se program sluit Vrydag se groot verjaardagvieringe met reüniegroepe in, wat ook die tradisionele Blyers-en-glyers-sportwedstryde behels.
Vrydagaand word verder gevier met ’n osbraai en stoepstories by die koshuis Eie Haard saam met die bekende Cobus Odendaal, wat vanjaar ná 36 jaar as onder meer departementshoof en koshuisvader by die skool afgetree het.
Charles Liversage, skoolhoof. Foto: Facebook
Die Hoërskool Sentraal is op 26 Augustus 1905 deur die Gereformeerde kerkraad en die plaaslike gemeenskap in die middedorp van Bloemfontein gestig om aan die kinders van die stad ’n eie Afrikaanse skool te bied, vertel Spies. “In 1980 het Sentraal met die Hoërskool Dan Pienaar saamgesmelt en na ons huidige perseel oorgekom, waar ons nou al dekades lank ’n trotse tuiste het.”
Spies vertel wat die skool besonders maak, is dat God eerste geplaas word. “Ons en ons skool sal die Here dien” is ’n leuse wat groot in die saal opgerig is, op inisiatief van die skoolhoof, Charles Liversage.
“Op hierdie geloofsgrondslag bou ons voort, saam met tradisie, trots, sterk akademie, sport en kultuur, en ’n hegte gemeenskapsgees wat ons leerders toerus om met karakter en selfvertroue hul plek in die wêreld in te neem. “Heel en gelukkige kinders is die skool se kern-doel. Dít is hoe ons die volgende 120 jaar gaan instap,” sê Spies.
Gestig onder ’n afdak
Die Vrije Christelike School, soos die eers genoem is, is op 26 Augustus 1905 onder die afdak van die Gereformeerde Kerk in Zastronstraat in Bloemfontein gestig. Dit was ’n nederige begin met slegs 50 leerlinge wat deur die legendariese D.F. du Toit (Oom Lokomotief), taalstryder, joernalis en letterkundige, in hul moedertaal onderrig is.
Die leerlingtal het so gegroei dat die kerkgebou en konsistorie van die Gereformeerde Kerk te klein geword het, maar daar was nie geld vir uitbreidings nie.
’n Deurbraak het in 1908 gekom toe ’n onderwyswet verseker het dat die Hollandse taal naas Engels gelyke regte sou geniet. Die skool kon in ’n staatskool omskep word. Vanaf 1 Julie 1908 sou dit die Voorbereidende Praktiese Skool word.
Op 22 November 1929 is besluit om die naam na Sentrale Hoërskool te verander wat die laerskool ook sou insluit. In 1933 het die provinsiale administrasie begin om die hospitaalgebou in Andries Pretoriusstraat in klaskamers, ’n personeelkamer, ’n kantoor vir die hoof en ’n saal te omskep.
Begin 1945 was die skool reeds die grootste Afrikaanse skool in die Vrystaat en het puik matriekuitslae daartoe bygedra om Sentraal se roem te versprei. Die stigting van nuwe hoërskole in snelgroeiende woonbuurtes in die stad het die leerlingtal laat daal en ’n krisis het gedreig.
Gevolglik is besluit om die skool aan die begin van die tagtigerjare na die skoolgebou van die Hoërskool Dan Pienaar te laat skuif. Die skole het saamgesmelt en sedertdien van krag tot krag gegaan op die huidige skoolterrein.
Bron: Wikipedia
OFM Nuus cvs/mvh