International
Hamas aanvaar nuwe skietstilstandvoorstel, Israel se reaksie onseker─── 14:40 Tue, 19 Aug 2025

Hamas sê hy aanvaar ’n nuwe skietstilstandvoorstel van Egipte en Katar se bemiddelaars. Die plan sluit in die vrylating van sowat die helfte van die oorblywende Israeliese gyselaars in Gasa.
Israel se standpunt is onseker. Benjamin Netanyahu, premier van Israel, sê sy regering sal slegs ’n ooreenkoms aanvaar indien al die gyselaars gelyktydig vrygelaat word.
In ’n videoverklaring ná Hamas se aankondiging sê hy Hamas is “onder geweldige druk”. Hy is self toenemend onder druk ná die grootste betogings Sondag (17/8) in Israel sedert die uitbreek van die oorlog.
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, is toenemend onder druk. Foto: X
Betogers eis die onmiddellike terugbring van die gyselaars en ’n einde aan die konflik.
Volgens Palestynse gesondheidsamptenare het meer as 62 000 Palestyne in die afgelope 22 maande se oorlogvoering gesterf. Die nuwe voorstel behels ’n 60-dae-opskorting van gevegshandelinge, waarin sowat tien gyselaars in twee fases vrygelaat word in ruil vir Palestynse gevangenes.
Onderhandelinge vir ’n permanente skietstilstand sal gelyktydig voortgaan.
LEES OOK: Gasa op rand van ‘katastrofiese hongersnood’
Lt.genl. Eyal Zamir, Israel se weermagstafhoof, sê die oorlog is by ’n “keerpunt” en dat aanvalle op Gasa-stad verder versterk word.
Plaaslike inwoners sê Israeliese tenks dring die Sabra-wyk binne en omsingel skole en ’n kliniek van die Verenigde Nasies waar honderde mense skuil.
Intussen bespreek Israel se kabinet planne om Gasa-stad permanent te beset. Netanyahu sê Israel beoog om uiteindelik die hele Gasa te verower, selfs al beteken dit dat die meeste van die gebied se 2,1 miljoen inwoners verder ontheem word.
Egipte sterker na vore
Intussen is Egipte se rol as bemiddelaar die afgelope week versterk. Khalil al-Hayya, Hamas se hoof-onderhandelaar, vergader saam met ’n afvaardiging in Kaïro.
Sheikh Mohammed bin Abdul Rahman Al Thani, Katar se premier, besoek ook die Egiptiese hoofstad om “maksimumdruk” op albei partye toe te pas.
Badr Abdelatty, Egipte se minister van buitelandse sake, sê die dringendheid van ’n skietstilstand is groot en dat die humanitêre situasie in Gasa “ondenkbaar” is.
Toenemende menslike koste
Hy waarsku dat enige poging om Palestyne permanent uit Gasa te verplaas nie geduld sal word nie. Hy noem dit ’n “rooi grens” en sê dit bedreig Egipte se veiligheid en soewereiniteit.
Hoewel Hamas se aanvaarding van die voorstel as ’n deurbraak gesien word, is Israel se reaksie nog onseker. Die komende week kan deurslaggewend wees, aangesien die oorlog se koste – menslik én ekonomies – steeds toeneem.
Bronne: Guardian, BBC, CNN
OFM Nuus mvh