On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Dokter (80) in arres ná gru-vonds op Vrystaatse plaas

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:15 Wed, 03 Sep 2025

Dokter (80) in arres ná gru-vonds op Vrystaatse plaas | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Bejaarde Vrystater is in hegtenis geneem nadat ’n liggaam op sy grond ontdek is.

Die Kroonstadse dokter sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van moord en regsverydeling terwyl die polisie steeds die saak ondersoek. Beamptes het Dinsdag (2/9) die inhegtenisneming van die bejaarde bevestig nadat ’n liggaam op sy plaas gevind is in die gebied tussen Kroonstad en Welkom. 

Die oorskot is op 20 Augustus ontdek ná ’n wenk van plaaslike inwoners. ’n Taakspan van Bloemfontein het leidrade opgevolg wat hulle eindelik na die plaas gelei het, sê brig. Motantsi Makhele, provinsiale woordvoerder.

“Die oorskot is op ’n plaas langs die pad tussen Kroonstad en Welkom gevind ná deeglike ondersoeke deur ons taakspan, sê hy. “Na bewering is die oorledene op die eiendom begrawe.”

Die liggaam was in ’n gevorderde stadium van ontbinding, wat beamptes genoop het om DNS-monsters te neem vir ontleding om die identiteit van die oorledene te bevestig. Die polisie het nog geen nadere besonderhede oor die slagoffer se identiteit bekendgemaak nie.

’n Saakdossier is geopen op aanklagte van moord en regsverydeling. 

LEES OOK: Kroonstad-arts vertel van plaasaanval

Die 80-jarige is in verband met dié klagtes in hegtenis geneem. Nog inhegtenisnemings is moontlik namate die ondersoek vorder.

Makhele beklemtoon die sensitiwiteit van die ondersoek en vra mense moet wetstoepassers toelaat om die saak op ’n bewysgedrewe wyse te hanteer. Hy maan die publiek om nie onbevestigde inligting te versprei wat die ondersoek kan belemmer nie.

“Dis ’n ernstige en sensitiewe saak waarin ’n lewe verloor is. Ons vra die gemeenskap om geduldig te wees en toe te laat dat die ondersoek sonder inmenging verloop.

“Bespiegeling en onbevestigde inligting kan die saak benadeel en die gereg dwarsboom.”

Intussen wag die verdediging wag nog op ’n besluit van die provinsiale direkteur van openbare vervolging ná ’n vertoë namens Carl Christian Gutter (78), ’n boer van Brandfort wat van moord aangekla word.

Gutter word vervolg ná ’n voorval op 29 Augustus 2016, toe Sonnyboy Segalo op sy plaas, Palmietfontein, betrap en doodgeskiet is. Volgens die Valke is die polisie ontbied ná berigte van ’n plaasaanval. 

LEES OOK: Valke ondersoek beweerde aanval op Brandfort-boer

By aankoms is vier verdagtes deur plaaswerkers aangehou. Segalo is met ’n skietwond in die rug gevind en is later aan sy beserings oorlede.

Aanvanklik is Segalo en drie ander van poging tot roof aangekla, maar die medebeskuldigdes is vrygespreek. Destyds is niemand vir moord in hegtenis geneem nie. 

Ná ’n geregtelike doodsondersoek in Julie verlede jaar, het die hof in Maart bevind dat daar genoeg bewyse is om Gutter te vervolg. Hy is op 21 Mei in hegtenis geneem en op R2 000 borgtog vrygelaat.

LEES OOK: Wees paraat – toename in plaasaanvalle in Vrystaat

Adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger, sê as die huidige vertoë onsuksesvol is, sal hulle hulle tot die nasionale vervolgingsgesag wend. Die saak is tot 3 Oktober uitgestel vir die uitslag van die vertoë.

Twee vuurwapens is destyds by die toneel gevind en vir ballistiese ontleding gestuur.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi, Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.