On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

IVF bring hoop en genesing vir paartjie ná jare van teleurstelling

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:16 Thu, 11 Sep 2025

IVF bring hoop en genesing vir paartjie ná jare van teleurstelling  | News Article
Leandri en Alanah. Foto verskaf

Vir jare lank het ’n vrou van Noordwes ’n stille pyn in haar hart gedra – die verlange om haar eie kind vas te hou. Maand ná maand het hoop in hartseer verander soos die droom van moederskap al hoe minder soos ’n moontlikheid gelyk het.

Leandri van der Merwe (36), wat intussen na Randburg verhuis het, ken die pad na moederskap alte goed. Nadat sy meer as drie jaar gesukkel het om natuurlik swanger te raak met haar lewensmaat, Quintin, het sy haar tot in vitro-bevrugting (IVF) gewend. 

Vandag is sy die trotse ma van klein Alanah, wat net meer as ’n jaar oud is en haar huis met lag en energie vul. 

Alanah is haar ma en pa se trots. Foto verskaf

“Om te probeer swanger raak was ’n emosionele wipwaentjierit. Elke maand hoop jy, en dan kom die tekens dit het nie gewerk nie. Jy voel soos ’n mislukking as vrou,” vertel Leandri.

Terwyl Quintin sy bes gedoen het om positief te bly, kon sy ook die teleurstelling in sy oë sien. Die gewig van onvrugbaarheid het haar laat twyfel oor haarself, haar liggaam en selfs haar geloof.

Haar reis met onvrugbaarheid was nie nuut nie. In haar vorige huwelik het sy reeds vier onsuksesvolle rondes van inseminasie deurgemaak. Op daardie tydstip het sy gedink die probleem was dalk nie net hare nie. 

IVF hul enigste opsie

Toe niks saam met Quintin gebeur het nie, het die besef ingetree: Die probleem lê dalk by haar.

Teen 2023 het ’n spesialis bevestig sy het vroeë ovariumversaking en daar is baie min eiers oor. Tyd was nie meer aan haar kant nie. IVF het hul enigste opsie geword, en hoewel sy lank oor die proses gelees het, kon niks haar voorberei vir die emosionele spanning nie.

“Fisiek het my liggaam dit goed hanteer,” sê sy. “Maar die stres en angs was verskriklik. Ek het joernaal gehou net om myself gesond te hou.”

Alanah is 'n energieke dogtertjie. Foto verskaf

Die paartjie het gekies om hul IVF-reis privaat te hou. “Elke dag was gevul met inspuitings, medikasie en eindelose afsprake. 

“Maar die moeilikste deel was die wag – veral in die twee weke ná die embrio-oordrag. Dit het my doodgemaak. Dit het soos ’n ewigheid gevoel,” vertel Leandri.

Teen alle verwagtinge in het hul heel eerste IVF-poging geslaag. Van die tien eiers wat verkry is, het slegs een sterk embrio deurgedruk – die een wat Alanah sou word. 

Komplikasie bring vrees

Toe die positiewe bloedtoets haar swangerskap bevestig het, het Leandri gesukkel om te glo dit is ’n werklikheid. “Dit het my letterlik weke geneem om te besef ek gaan ’n ma word.”

Maar die reis het nie daar geëindig nie. Komplikasies laat in haar swangerskap het nuwe vrees gebring. Op 34 weke moes ’n noodkeisersnee uitgevoer word toe Alanah se hartklop verswak het.

“Die dokters het 17:00 besluit hulle moet die baba dadelik uithaal. Binne 20 minute was ek in die teater en het ek in algehele skok gegaan.” 

Leandri en Alanah. Foto verskaf

Daar is drie keer probeer om ’n epiduraal te doen, maar dit het nie gewerk nie en sy is onder narkose gesplaas. “Dit was chaoties, koud en oorweldigend. Quintin het gebly en ’n paar pragtige foto’s geneem – waarvoor ek nou baie dankbaar is.”

Leandri vertel toe sy wakker geword, het Quintin vir haar gesê Alanah is in die waakeenheid. 

“Dit het nie dadelik ingesink nie. Daardie aand het hulle my gevra om na haar toe te gaan – sy was op suurstof en buise, en ek kon haar nie eers vashou nie. Dit het ’n hele week geneem voordat ek kon.”

Alanah is dansky IVF gebore. Foto verskaf

Leandri was drie dae in die hospitaal. Sy het daagliks heen en weer per Uber hospitaal toe gependel omdat sy nie ná die keisersnee kon bestuur nie en haar man moes werk.

“Dit was uitputtend. Ek het elke aand gehuil. Die enigste ding wat ek kon doen, was om elke drie uur melk te pomp, selfs deur die nag. Ten minste het sy nie geelsug gehad nie.

“Die hele ervaring was traumaties. Ek het beroof gevoel – geen vel-tot-vel-kontak, geen vashou, geen huis toe bring nie. As ’n eerstekeerma het dit my gebreek.”

Vreesaanjaende ervaring

Wat die hele ervaring nog meer dramaties gemaak het, was toe dokters iets in Alanah se hart gevind het. 

“ ’n Klep het nie ten volle ontwikkel nie. Ná skanderings en ure se wag het die kardioloog gesê daar is nie chirurgie nodig nie – net medisyne en monitering. Dit was vreesaanjaend, maar ’n verligting.

“Eerlikwaar, ek het nog nooit so hard in my lewe gebid nie. Dit het my geloof heeltemal verander. Daar was iets goeds in die slegte.”

Alanah was 18 dae in die waakeenheid. Foto verskaf

Alanah het 18 dae in die waakeenheid deurgebring, ’n tyd wat Leandri as “traumatiserend” beskryf nadat daardie kosbare eerste oomblikke van binding gesteel is. 

Vandag is Alanah egter ’n besige klein dogtertjie kleuter – klein, maar vol energie, met ’n sterk wil en ’n liefde vir die buitelewe. “Sy is ’n absolute vreugde in ons lewens,” sê haar ma met trots.

Vir Leandri was moederskap nog altyd haar grootste droom. Sy onthou hoe sy met poppe gespeel het tot die ouderdom van 14 en later in babaklere-afdelings rondgestap het lank voordat sy haar eie kind gehad het.

Moenie moed opgee nie

Haar boodskap aan ander paartjies wat dieselfde moeilike pad stap is om nie moed op te gee nie.

“Indien daar nie ’n positiewe toets ná ses maande is nie, besoek ’n spesialis. Daar is niks so wonderlik soos om daardie baba vas te hou en te besef dis joune nie. Dit bly ’n absolute wonderwerk.”

Hierdie artikel is een in ’n reeks oor ouerskap.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.