On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse stortingsterrein is ‘gesondheids- en omgewingsramp’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:05 Tue, 23 Sep 2025

Vrystaatse stortingsterrein is ‘gesondheids- en omgewingsramp’ | News Article
’n Stortingsterrein in Bloemfontein. Foto: AfriForum

Die toestande op ’n Vrystaatse stortingsterrein is ’n gesondheids- en omgewingsramp, wat nie langer geïgnoreer kan word nie.

Mangaung-metro het ’n paar dae geswoeg om die onlangse brand op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein te bedwing. ’n Herhalende krisis wat steeds nabygeleë gemeenskappe raak, sê David van Vuuren, Mangaung-kiesafdelingleier en DA-raadslid. 

Brande het weereens by die terrein uitgebreek en dit beklemtoon die voortdurende mislukking om die onderliggende probleme aan te pak. 

“Die groot bydraende faktor is die voortgesette tekort aan funksionele geelvlootvoertuie wat noodsaaklik is vir behoorlike afvalskeiding en terreinbestuur. Hierdie tekort vererger ’n reeds gevaarlike situasie.” 

Die DA doen ’n beroep op Saki Mokoena, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, om sonder versuim in te gryp.

Rook en roet bedek eiendomme

Dave McKay, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaatse wetgewer, sê gedurende ’n onlangse inspeksie van die terrein is  talle voorbeelde van gesondheids-, omgewings- en statutêre oortredings ontdek.

“Rook en roet bedek nabygeleë eiendomme en besoedel die lug tot so ’n mate dat dit dikwels byna onmoontlik is om asem te haal,” sê hy. 

“Mangaung-metro het aan die DA bevestig ’n rehabilitasieplan is goedgekeur om die stortingsterrein (te laat voldoen aan) omgewingsregulasies.” Beplande verbeterings sluit in die installering van heinings, die verwydering van onwettige tekens en ou bande en verbeterde toegang tot die terrein.

‘Toename in onwettige storting ’n ernstige openbare gesondheidsgevaar’

Van Vuuren waarsku dit is steeds ’n beduidende uitdaging om die terrein te bereik. Bouwerk aan die nuwe brug oor Vereeniginglaan het die reisafstand met meer as 16 km verleng vir voertuie wat na die stortingsterrein op pad is. 

“Dit het gelei tot ’n toename in onwettige padstorting wat ’n ernstige openbare gesondheidsgevaar is.” 

Terreine voldoen nie aan vereistes

Die DA sal formeel versoek die metro heropen toegang tot die terrein vanaf die noordekant om die probleem te help verlig.

In die jongste jaarlikse stortingsterreinoudit het AfriForum bevind slegs een uit 22 stortingsterreine wat in die Vrystaat onder die loep geneem is, selfs aan die mees basiese vereistes vir behoorlike stortingsterreinbestuur voldoen.

“Die organisasie beplan om die bevindinge aan die departement van bosbou, visserye en die omgewing voor te lê en ’n beroep te doen op munisipaliteite wat voortdurend versuim om aan afvalbestuurstandaarde te voldoen,” sê Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en AfriForum se raadgewer oor omgewingsake.

AfriForum het alarm gemaak oor wat hy beskryf as ’n ernstige en sistemiese ineenstorting in stortingsterreinbestuur oor die provinsie heen.

OFM Nuus het Sello More, Mangaung se munisipale bestuurder, om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.