Central SA
Potchefstromers gewaarsku om stasie te vermy ná skokdood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:56 Fri, 26 Sep 2025

Inwoners van Potchefstroom, en veral studente, word gewaarsku om weg te bly van die stad se uitgebrande spoorwegstasie nadat ’n kragkabel ’n eerstejaarstudent doodgeskok het.
Wiëm Pretorius (19) en sy vriendin het blykbaar foto’s op die stasie geneem voor die tragiese voorval Woensdag (24/9). Pretorius het na bewering probeer om op ’n trein te klim om ’n foto te neem, maar het in aanraking gekom met ’n lewendige kragkabel, sê Madra de Bruin, DA-raadslid vir wyk 15.
“Dit is die vierde persoon wat op die stasie sterf gedurende my 15 jaar as raadslid. Ek het talle pogings aangewend om die spoorlyn te laat sluit, maar is meegedeel dat daar geen befondsing daarvoor is nie.”
’n Brand het die spoorwegstasie van ouer as ’n eeu in September 2020 in puin gelê. Die polisie se forensiese afdeling kon nie die oorsaak van die brand vasstel nie. “Die lêer is intussen gesluit,” sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder.
Die stasie voor die brand. Foto: The Citizen
Bertie Jacobs, Noordwes-Universiteit (NWU)-woordvoerder, het Pretorius se dood bevestig. “Dit is met hartseer dat die NWU van die tragiese afsterwe van Wiëm Pretorius verneem het. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie, vriende en geliefdes. Ons wens hulle sterkte toe gedurende hierdie moeilike tyd.”
Hy beskryf Pretorius as ’n geliefde lid van die universiteitsgemeenskap, wat altyd onthou sal word deur diegene wie se lewe hy aangeraak het.
Die stasie ’n gewilde plek vir jaareindfoto’s. De Bruin waarsku egter dat dit uiters gevaarlik is. “Ons het tragies nog ’n lewe verloor weens blootgestelde kragkabels op hierdie terrein. Foto’s is vir ewig – maar die risiko ook.
Die stasie is vyf jaar gelede in ’n brand in puin gelê. Foto: Potchefstroom Herald
“As jy wel daarheen gaan, moenie op enigiets klim nie. Ons dringende versoek is dat jy heeltemal wegbly. Ondersoeke is aan die gang, en ons plaas druk op Transnet om die gebied te beveilig. Totdat dit gebeur, is jou veiligheid baie belangriker as ’n foto.”
’n Geregtelike doodsondersoek is by die Potchefstroomse polisiekantoor geopen, sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder.
Arno Hollander. Foto: Facebook/Arno Hollander
In ’n soortgelyke voorval, op 26 Oktober 2019, is Arno Hollander (23) ook op die stasie doodgeskok.
Dié boorling van Mosselbaai het in George skoolgegaan voordat hy hom aan die NWU ingeskryf het, het George Herald destyds berig.
Hy en ’n vriend was besig om foto’s op die stasie te neem toe hy glo op ’n treinwa geklim en deur ’n oorhoofse kraglyn doodgeskok is.