International
Hommeltuie by Deense lughawens is ‘hibriede aanvalle’─── 09:26 Thu, 25 Sep 2025

Denemarke se premier Mette Frederiksen waarsku die hommeltuig-voorvalle by verskeie lughawens in haar land is die “ernstigste aanval op kritieke Deense infrastruktuur tot nog toe”.
Die Deense regering ondersoek tans die reeks voorvalle wat vlugte ontwrig en nasionalesekerheidskwessies opnuut in die kollig plaas. In die jongste voorval Woensdag is die Aalborg-lughawe in die noorde van Denemarke gesluit nadat ongemagtigde hommeltuie in die lugruim opgemerk is.
Die Deense minister van verdediging, Troels Lund Poulsen, het dié oornag-hommeltuigvlugte as ’n “hibriede aanval” beskryf, en gesê dit lyk na die werk van ’n “professionele rolspeler”. Hy het later bygevoeg daar is geen bewyse van Russiese betrokkenheid nie.
Die minister van justisie, Peter Hummelgaard, het beaam dit kan ’n hibriede aanval wees.
Mette Frederiksen. Foto: X
’n Hibriede aanval is ontwrigtende optrede wat militêre, tegnologiese, politieke en/of inligtingsinvloede kombineer om ’n land se stabiliteit, infrastruktuur of openbare vertroue te ondermyn. Dit kan insluit kuberaanvalle, waninformasie, sabotasie en die gebruik van tegnologie soos hommeltuie om verwarring en ontwrigting te saai.
Die polisie in Noord-Jutland het bevestig die hommeltuie was van die grond af sigbaar, maar kon nie sê hoeveel nie. Hoofinspekteur Jesper Bojgaard Madsen het gesê die polisie kan nog nie kommentaar lewer oor die doel van die hommeltuie of wie daaragter sit nie. “Indien moontlik, sal ons die hommeltuie uitskakel.”
Die regering het beklemtoon daar is geen onmiddellike gevaar vir passasiers of inwoners nie, maar het die publiek versoek om die gebied te vermy waar hommeltuie waargeneem word.
Verhoogde spanning in Europa
Hommeltuie is ook by die lughawens in Esbjerg, Sonderborg en Skrydstrup opgemerk, hoewel geen van hulle gesluit is nie. Die ontwrigtings kom te midde van verhoogde spanning in Europa.
Die Navo-lidlande Estland, Pole en Roemenië het onlangs die skending van hul lugruim deur Russiese hommeltuie of vliegtuie aangemeld. Navo het die optrede veroordeel en gewaarsku die alliansie sal “alle nodige militêre en nie-militêre middele” gebruik om sy lede te verdedig.
Pres. Donald Trump van die VSA het by die VN voorgestel Navo-lidlande moet enige Russiese vliegtuie wat hul lugruim binnedring, neerskiet. Die ondersoeke na die hommeltuig-voorvalle in Denemarke duur voort.
Bronne: BBC en Deutsche Welle
OFM Nuus mvh