On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Trump eis VN-ondersoek na “drievoudige sabotasie”

───   08:24 Thu, 25 Sep 2025

Trump eis VN-ondersoek na “drievoudige sabotasie” | News Article
Die Trumps die oomblik toe die roltrap vashaak. Foto: Skermgreep BBC

Pres. Donald Trump beskuldig die Verenigde Nasies daarvan dat hy met sy besoek aan die Algemene Vergadering in New York vandeesweek drie keer gesaboteer is.

Hy eis ’n onmiddellike ondersoek na drie tegniese voorvalle wat hy as doelbewus beskryf. In die eerste voorval Dinsdag (23/9) het die roltrap in die VN se hoofkantoor oënskynlik ophou werk die oomblik toe Trump en sy vrou, Melania, hul voete daarop sit. Die egpaar moes maar die trap uitklim. 

Trump sê Melania kon beseer gewees het, en noem die voorval ’n “skande”. VN-amptenare verduidelik egter ’n videograaf van Trump se afvaardiging het moontlik die roltrap se veiligheidsmeganisme geaktiveer terwyl hy hul aankoms verfilm het.

Met sy toespraak het Trump ook ’n telesouffleurprobleem ervaar en gesê: “Wie ook al met hierdie telesouffleur werk, is in groot moeilikheid,” wat ’n gelag uit die gehoor ontlok het. 

Metafoor vir VN se ‘leë woorde’

Hy het dié fout later gebruik as ’n metafoor vir wat hy sien as die VN se “leë woorde” en gebrek aan doeltreffendheid. Die VN het bevestig dat die telesouffleur deur die VSA-afvaardiging gehanteer is.

In ’n Truth Social-plasing Woensdag het Trump ’n derde klagte bygevoeg: Die klankstelsel in die saal het nie gewerk nie, en wêreldleiers kon hom nie hoor sonder die tolkoorfone nie. “Nie een, nie twee nie, maar drie baie sinistere voorvalle!” het hy geskryf. “Dit is nie ’n toeval nie – dit was drievoudige sabotasie by die VN.”

Karoline Leavitt, Wit Huis-woordvoerder, het Trump se kommer beaam en verwys na ’n berig in die Times of London waarin VN-werkers glo gespot het oor die moontlikheid dat die roltrap afgeskakel word tydens Trump se besoek. Sy het later aan Fox News gesê die geheime diens ondersoek die saak.

Daar is ‘geen bewyse’

Stéphane Dujarric, VN-woordvoerder, het bevestig die roltrap se veiligheidsmeganisme is geaktiveer, waarskynlik deur die videograaf, en dat die klankstelsel normaal gefunksioneer het. Daar is geen bewyse van opsetlike sabotasie nie.

Trump se toespraak het plaasgevind te midde van toenemende verwydering tussen sy administrasie en die VN, insluitend die VSA se onttrekking uit agentskappe soos die Menseregteraad en die Wêreldgesondheidsorganisasie, en die vermindering van geldelike bydraes.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.