Central SA
Outistiese kind verander Noordwes-ma se lewensbeskouing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:18 Wed, 29 Oct 2025
’n Ma van Sannieshof in Noordwes het geleer liefde beteken soms om die wêreld deur heeltemal nuwe oë te sien.
Toe haar seuntjie na sy eie wêreld begin onttrek – oogkontak vermy, ophou praat en troos vind in spinnende wiele en lopende water – het sy aangevoel iets dieper is besig om te ontvou. Min het sy toe geweet dit was die begin van ’n pad wat haar geloof sou toets, haar lewensbeskouing sou omvorm en eindelik haar lewe met onverwagte vreugde sou vul.
Pieter van den Berg (4) is ’n seuntjie wat vreugde put uit die eenvoudigste dinge. Hy kan ure lank die beweging van water of die draai van ’n wiel dophou.

Pieter se eerste woord was trekker. Foto verskaf
Hoewel hy nog nie vlot praat nie, kommunikeer hy op sy eie manier – deur ’n mens se hand te vat en jou te lei na wat hy wil hê. “Hy wys nie met sy vinger nie,” vertel sy ma, Carien. “Hy wys jou, en jy leer om sy taal te verstaan.”
Aanvanklik het alles heeltemal normaal gelyk. Pieter en sy tweelingsuster, Lira, het gegroei en hul mylpale bereik.
Hy was net ’n paar weke agter, ’n algemene verskil tussen seuns en meisies.
‘Eers het ek gedink hy kon ons nie hoor nie’
Maar op ongeveer 18 maande het iets verander: “Hy het opgehou praat, opgehou oogkontak maak en hom teruggetrek in ’n ruimte, wat blykbaar net hy verstaan het.
“Eers het ek gedink hy kon ons nie hoor nie,” onthou Carien. “Ons het van dokter na dokter gegaan, maar niemand kon iets fout vind nie.
“Toe het ek hom na ’n spraakterapeut geneem, en sy het ons aangeraai om die Ados-toets vir outisme te doen.” Sy het reeds geweet wat die uitslag sou wees, vertel Carien, maar om dit te hoor, het steeds iets binne haar gebreek.

Pieter geniet dit om puzzles te bou. Foto verskaf
Die diagnose het gekom ná maande van verwarring en hoop.
“Al verwag jy dit, bly jy hoop dit is nie waar nie. Toe ek dit uiteindelik hardop hoor, het ek net gehuil. Dit het onwerklik gevoel – asof dit nie my lewe kon wees nie.”
Haar begrip van outisme het daardie dag heeltemal verander. “Ek het gedink outistiese kinders wou nie aangeraak of geliefd word nie,” erken sy.

Lira, Carien, Phillip en Pieter. Foto verskaf
“Nou weet ek hoe verkeerd dit was. Die spektrum is so breed, en elke kind is anders. Pieter toon liefde op maniere wat net so diep is (as ander kinders) – soms selfs dieper.”
Die dae ná die diagnose was gevul met vrees en onsekerheid. Sou hy ooit weer praat, skool toe gaan? Sou hy steeds haar drukkies wou hê?
Maar Carien het geweier om toe te laat dat vrees hul pad bepaal. “Hoe gouer jy outisme identifiseer, hoe gouer kan jy help,” sê sy.
Loop pad in geloof
“En God het die regte mense in ons lewe geplaas elke tree van die pad.” Geloof het haar anker geword.
“Hierdie reis het verander hoe ek alles sien. Ek bekommer my nie meer oor dinge wat nie saak maak nie. As jou mense gesond en gelukkig is, is jy geseënd. Ek loop hierdie pad in geloof; God weet wat voorlê.”
Tog was daar ook oomblikke van onbeskryflike vreugde. “Pieter se eerste woord was nie ‘mamma’ of ‘pappa’ nie, maar ‘trekker’ – ’n groot oomblik vir sy pa, Phillip, wat boer,” sê Carien.

Pieter toon liefde op maniere. Foto verskaf
“Toe hy later ophou praat, was die stilte hartverskeurend. Maar maande van daaglikse terapie het vrugte afgewerp.
“Die dag toe hy weer ‘mamma’ sê … Ek kan dit nie in woorde omsit nie. Dit was soos om ’n wonderwerk te hoor.”
Die grootste daaglikse uitdaging bly kommunikasie. “Hy raak gefrustreerd wanneer ons nie verstaan wat hy wil hê nie, en ek voel ook hulpeloos,” erken sy. “Maar terapie help, en ons het geleer om sy leidrade te lees.
‘Ek is hier, en ek probeer’
“Wanneer hy ‘ttt’ sê en die afstandbeheerder vir my gee, weet ek hy wil TV kyk. Dis sy manier om te sê: ‘Ek is hier, en ek probeer.’”
Haar gemeenskap het ’n onskatbare bron van krag geword. “Van die apteker tot die plaaslike winkeleienaar, almal ken Pieter en behandel hom met geduld en warmte.
“Sy speelgroep en terapiespan is ewe ondersteunend. Mense gee regtig om. My Bybelstudiegroep bid elke week vir ons. Daardie ondersteuning dra my.”

Phillip en Pieter. Foto verskaf
Tog verstaan nie almal nie. “Wanneer Pieter in die openbaar ’n ineenstorting het, staar mense.
“Hulle weet nie hoe dit voel om al daardie oë op jou te hê terwyl jou kind net probeer cope nie. Soms sê mense selfs kwetsende dinge.”
Die grootste wanopvatting is dat outistiese kinders “stout” is of hulle “sleg gedra”. “Wanneer iemand in ’n rolstoel is, toon mense onmiddellik deernis,” sê sy.
‘Hierdie kinders kan ’n vol, gelukkige lewe lei’
“Maar wanneer ’n kind (sy) ore toemaak en huil, dink mense dis slegte maniere. Hulle sien nie dat dit ’n manier is om (homself) te probeer kalmeer in ’n wêreld wat te hard voel nie.” Wat sy die meeste wens, is dat mense sal verstaan outisme is nie ’n siekte nie.
“Dis nie iets wat genees of bejammer moet word nie,” sê sy. “Dit beteken net dat hulle die lewe anders ervaar. Hierdie kinders kan ’n vol, gelukkige lewe lei. Outisme is nie ’n doodsvonnis nie.”
Lira sê dit die beste wanneer sy trots vir ander vertel: “Liewe Jesus het my boetie anders gemaak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

