On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte in Bloemfontein-hof ná ongeluk drie kinders eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:29 Tue, 02 Dec 2025

Verdagte in Bloemfontein-hof ná ongeluk drie kinders eis | News Article
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan , verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

’n Jong man kom Dinsdag (2/12) vir die eerste keer voor in die Bloemfonteinse landdroshof ná die dood van drie kinders byna agt maande gelede in ’n botsing oos van die stad.

Die verdagte staan tereg op drie aanklagte. Dit sluit in strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, die verontagsaming van ’n padverkeersteken en die oortreding van padreëls oor hoeveel passasiers in ’n voertuig toegelaat word.

Die ongeluk op 23 Januarie op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar het die lewens geëis van die broers Ayden (8) en Ryan (6) Smit, sowel as hul niggie Leané van Papendorp (8).

“Ons sal ’n moontlike uitstel versoek om die inligting in die dossier te hersien,” sê adv. Allen Simpson, die verdagte se regsverteenwoordiger. Die verdagte sal na verwagting ’n pleitooreenkoms aangaan.

Ná verskeie vertragings en die herhaalde terugstuur van die dossier vir bykomende bewyse – insluitend nuwe beeldmateriaal van die toneel wat onlangs aan die lig gekom het, sowel as ’n J88-verslag – het die direkteur van openbare vervolging op 22 September besluit om met die saak voort te gaan.

Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas is. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.

Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan.

Tennique Joubert (6) was byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal. Weens die erns van die impak moes Tennique se milt verwyder word. Sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.

Die kinders was op pad na die Laerskool Dr. C.F. Visser in Estoire.

Die bestuurder se pa het op 22 September aan OFM Nuus bevestig sy seun werk oorsee en dat hy nie gevlug het nie. Uit die staanspoor was die ooreenkoms: “As die saak voortgaan, sal my kind verantwoordelikheid aanvaar.” het hy gesê.

“Voordat my seun die land verlaat het, het ons die polisie genader om te vra of hy toegelaat sou word om te reis, aangesien hy nog nie aangekla is nie.”

Wipwaentjierit

Martin Smit, pa van Ayden en Ryan, sê die jongste ontwikkelinge ontketen ’n emosionele wipwaentjierit. “Daar is ’n gevoel van dankbaarheid dat geregtigheid uiteindelik seëvier, maar terselfdertyd word ons oorweldig deur die gewig van ons verlies.

“Ons weet daar is nog ’n lang pad voor, maar ons is verlig dat dinge uiteindelik in (’n) regte rigting beweeg.”

Hy erken dat die hartseer ’n swaar geestelike en liggaamlike tol eis. “Ek kan nie meer slaap nie. Ek verdrink in mediese en apteekrekeninge net om kop bo water te hou. My mediese fonds is uitgeput – ek het sielkundiges, psigiaters besoek, ek het alles probeer …”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.