Central SA
Bloem se Bloekom Brandt Band bekroon as beste Afrikaanse rock-musikante─── SUSAN MARÉ 14:17 Tue, 02 Dec 2025
Die Bloekom Brandt Band van Bloemfontein, wat by die Central Music Awards met die louere as beste Afrikaanse rock-musikante weggestap het, is geen gewone musiekgroep nie.
Dié drie passievolle kunstenaars leef hul liefde vir musiek uit in alternatiewe Afrikaans. Hulle maak “jou pa se musiek”, vertel hulle. Dis “eerlik en rou”.
“Dis ’n versameling stories tussen drie musikante – geanker in die stof van die Noord-Kaap, met ’n beat, wat klop soos jou oupa se hart toe hy vir jou ouma gekyk het.
“Dis songs wat kaalvoet deur die vlaktes van rock, folk en alternatiewe klanke loop, met ’n bietjie stof in die keel en baie waarheid in die lirieke.”

Die groep het in Mei 2024 ontstaan toe die drie lede besluit het om saam te begin jam. Voor is Carel Harmse, en agter Kamohelo Poone en Arno Austin. Foto verskaf
Bloekom het in Mei verlede jaar ontstaan toe die drietal, wat gereeld saam visvang en ’n liefde vir musiek het, besluit het om saam te jam. Wat as ’n idee begin het, het vinnig in ’n passievolle projek ontluik.
Danksy die erkenning van Central Music Awards klim hierdie musiekgroep die notebalk ál hoër uit. Boonop is hulle genooi om tydens die prysuitdeling op te tree.
Carel Harmse is die hoofsanger, kitaarspeler en liedjieskrywer, Arno Austin speel baskitaar, komponeer en is klankingenieur, en Kamohelo Poone speel die tromme en komponeer.
Carel se musiekreis het op Prieska begin, waar die meeste goeie stories begin: langs die kampvuur met sy pa wat kitaar speel en die stories van die Noord-Kaap in die lug. Hy eksperimenteer van kleins af met die kitaar en liedjies skryf. Toe hy eindelik in 2023 die verhoog betree, het hy gou ’n bekende naam in plaaslike kuierplekke geword.
Van sy onvergeetlikste optredes was toe hy die verhoog met groot musikante soos Neil Nachtrein en Bacchus Nel gedeel het. Carel is bekend vir sy diep stem en poëtiese lirieke wat in persoonlike ervarings gegrond is.
Dit is werklike Suid-Afrikaanse stories en die eenvoudige vreugdes van die lewe. Hy bring veral emosionele en oorspronklike klankkleure na Bloekom se klank.

Die Bloekom Brandt Band maak musiek ‘oor daardie diep goed wat ’n mens om drieuur in die môre wakker maak’. Foto verskaf
Baskitaarspeler Arno Austin sê musiek is vir hom meer as net klank – dit is deel van sy identiteit. Hy is van kleinsaf formeel opgelei in ’n reeks instrumente, maar by die baskitaar het hy sy ware vibe gevind.
Hy smelt sy uitgebreide musikale agtergrond saam met ’n gesonde dosis speelsheid, wat elke vertoning iets besonders maak, en komponeer graag.
Terwyl Arno vir Concrete Chapel gespeel het, het hy die voorreg gehad om die verhoog te betree saam met gesiene musikante soos Watershed en Karen Zoid. As lid van Bloekom is sy oorperfeksie goud werd, soos ook sy tegniese kundigheid om die band se vertonings perfek te balanseer.

Die band se logo. ‘Ons noem dit jou pa se musiek, want ons hou van daai ou kassette wat jou ma nog nie weggegooi het nie.’ Foto verskaf
“My filosofie is eenvoudig: As dit nie lekker is nie, is dit nie die moeite werd om te doen nie. Ek is seker almal in die gehoor voel die energie in ons musiek aan. Perfekte klank is vir my belangrik.”
Kamohelo Poone is ’n Bloemfonteiner gebore en getoë. Hy was nog jonk toe hy besef het hy soek iets heeltemal anders in musiek. Sy liefde vir tromme is gebore uit die aansteeklike energie van punk-groepe soos Blink-182.
Punk het hom geïnspireer om sy eie groep, Glory to be Brave, te begin. Sy reis is met Safety First! voortgesit. Hier het hy die kuns verder vervolmaak om die subtiele dans tussen soniese (klankgolwe) volume en rustigheid te beheer. Van die musikante saam met wie hy al opgetree het, is Francois van Coke, Tidal Waves en The Tazers.

Die lede sê tussen hulle is is daar klanke en stories wat strek van die plaas na die see en weer terug na die stad – en alles tussenin. Foto verskaf
Bloekom Brandt Band is nie net ’n “ons-was-in-die-studio-storie” nie. Hulle maak musiek oor daardie diep goed wat ’n mens om drieuur in die môre wakker maak.
“By ons gaan jy al die songs kry met hul lirieke en stories daaragter,” vertel die drie. “Of dit nou begin het as ’n vinnige nota op ’n servet, of ’n rou stuk hart wat moes uitsweet op ’n kassiekitaar. Ons begin by die eerste songs wat vlamgevat het, en bou stadig aan ’n eie klankspoor van waar ons vandaan kom.
“Ons is hier om iets ouds weer wakker te maak, nie om te kopieer nie, maar om te onthou. Ons noem dit ‘jou pa se musiek’, want ons hou van daai ou kassette wat jou ma nog nie weggegooi het nie. Ons sit hulle op repeat ná ’n goeie afstof.”
‘Elke optrede is vir ons ’n nuwe avontuur en die gehoor is ons toergids’
Dit is die storie wat hulle vertel, “die emosies wat ons ontmasker met ons kitare, en die herinnering wat ons ontbloot met ons tromme”.
“Elke optrede is vir ons ’n nuwe avontuur en die gehoor is ons toergids. Ons is alternatief Afrikaans, want dit is wat ons doen en wie ons is. Tussen ons drie is daar klanke en stories wat strek van die plaas na die see en weer terug na die stad – en alles tussenin.
“Ons wil hê almal wat na ons luister moet welkom en gemaklik voel om vir daardie oomblik net hulself te wees.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

