On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Wateronderbreking beplan vir suide van Bloemfontein

───   REFILWE BEKANE 11:00 Wed, 03 Dec 2025

Wateronderbreking beplan vir suide van Bloemfontein  | News Article
’n Formele aanmaningsbrief sal aan die stadsbestuurder uitgereik word, wat die indiening van ’n omvattende noodplan vir storm- en rampreaksie binne 14 dae vereis. Foto: OFM Nuus

Inwoners van Bloemfontein se suidelike voorstede moet hulle staal vir ’n twaalf uur lange onderbreking in watertoevoer vanaf Vrydagoggend (5/12) om 06:00.

Die Mangaung-metro sê die krane moet toegedraai word vir noodsaaklike, beplande instandhouding en herstelwerk aan die grootmaat-waterinfrastruktuur. Die doel is om ’n meer betroubare watervoorsiening te verseker, lekkasies reg te stel en die netwerk teen toekomstige foute te beskerm.

Die onderbreking raak onder meer Peter Swartz, dele van Heidedal, Bloemspruit, Shannon, Pellissier, Generaal De Wet, Universitas, Langenhovenpark en Bainsvlei.

Die munispaliteit adviseer inwoners om water spaarsamig te gebruik tydens die herstelperiode. Foto: Freepik

Inwoners word sterk aangeraai om water op te gaar, krane dig toe te hou om oorstroming te voorkom wanneer die toevoer herstel word en water spaarsaam te gebruik tydens die hersteltydperk. Die metro vra om verskoning vir die ongerief.

Centlec gekap oor kragonderbrekings

Intussen kom die metro se kragvoorsiener onder skoot weens sy beweerde, voortdurende versuim om grootskaalse kragonderbrekings ná gure weer in Bloemfontein doeltreffend te bestuur.

Die DA in Mangaung veroordeel Centlec se reaksie ten sterkste. Storms het Bloemfontein en omliggende gebiede al vir langer as vier jaar herhaaldelik in duisternis gehul; tóg bly Centlec se krisisreaksie “traag, reaktief en gevaarlik onvoorbereid”.

“Die mees onlangse kragonderbreking, ná ’n hewige reënstorm, het weer Centlec se onvermoë getoon om vinnig te reageer wanneer inwoners hulp nodig het,” sê DA-rdl. Dirk Kotzé. 

“Gebiede soos Hamilton, Hilton, Estoire, Bloemspruit, Wilgehof, Bayswater en Hospitaalpark se krag het afgegaan nadat sterk winde bome ontwortel en kraglyne beskadig het.”

Die DA gaan ’n skrywe aan die munisipale bestuurder rig om die voorlegging van ’n omvattende noodplan vir storm- en rampreaksie binne 14 dae te vereis.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM News/Refilwe Bekane

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.