On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Geen spoor van Noordwester ná maande se geheimsinnigheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:59 Tue, 09 Dec 2025

Geen spoor van Noordwester ná maande se geheimsinnigheid  | News Article
Christopher Don Alle Harcombe is sedert Saterdag (6/12) vermis. Foto verskaf

’n Man van Noordwes het glo gedreig om sy eie lewe te neem voor hy vermis geraak het, hoewel naasbestaandes sê sulke gedrag is glad nie in sy geaardheid nie.

Christopher Don Alle Harcombe (42) het Saterdag (6/12) net ná 07:00 sy huis in Klerksdorp verlaat om fiets te ry. Hy is sedertdien nog nie weer gesien of van gehoor nie. 

“Dis nie hoe hy is nie. Maak nie saak wat gebeur het nie, hy het altyd huis toe gekom,” vertel sy vrou, Angelique. 

Christopher het vroeër daardie oggend nog tyd saam met sy twee dogters deurgebring. “Hy het selfs vir hulle gesê dat wanneer hy terugkom, hy hulle vir roomys sou neem. Sy kinders is sy alles.”

Volgens Angelique het sy die eerste keer iets ongewoons opgemerk net voordat hy vertrek het. “Gewoonlik, as ek hom sou vra waarheen hy gaan, sou hy my sê, maar daardie dag het hy net gesê: ‘Dit het niks met jou uit te waai nie.’”

Daarna is Christopher op sy wit veld-padfiets met sy Ham Hill Billy-fietsuitrusting, wit fietsskoene en ’n swart-en-vaal Chico-helm vort. Sy foon, ID en bankkaart was by hom. Sy bankkaart is later by ’n supermark in Roosheuwel gebruik, blykbaar die laaste aktiwiteit voordat hy verdwyn het. 

‘Niemand kan vir ons sê waarheen hy dalk gegaan het nie’

Angelique sê haar man het gewoonlik tussen 15:00 en 16:00 van sy fietsrit teruggekom, soms vroeër as dit gelyk het of die weer opsteek. Die paartjie, wat 13 jaar getroud is, het hulle verskille gehad. 

Aanvanklik het Angelique gedink hy sou dalk elders gebly het, maar hy het ook nie Maandag vir werk opgedaag nie. “Hy het nooit net weggebly nie. 

“Hy weet hoe belangrik sy werk is. Vir hom om nie vir werk op te daag nie, is baie vreemd. Niemand weet waar hy is nie. Niemand kan vir ons sê waarheen hy dalk gegaan het nie.”

Christopher Don Alle Harcombe het gaan fietsry en spoorloos verdwyn. Foto verskaf

Sy foon of fiets is nog nie gevind nie, en geeneen van sy gewone roetes het enige spoor opgelewer nie. “Ons het die roetes gery wat hy gewoonlik ry, en selfs dié wat hy soms probeer,” vertel sy. “Hy was op geeneen van hulle nie.”

Harcombe word beskryf as lank en skraal, met blonde hare wat hy gewoonlik in ’n poniestert vasmaak, en blou oë. Sy linkerduim ontbreek. 

Hy het verskeie tatoeëermerke, insluitend ontwerpe van Slipknot, ’n draak-yang, Devil Driver, Offspring, ’n vlampatroon en ’n pentagram. Hy dra ook ’n hangertjie met ’n St. Michael-muntstuk, handgemaakte armbande en soms ’n oogring.

‘Ons kan nie so aangaan nie’

Ten spyte daarvan dat hy maande lank geheimsinnig was, maak sy verdwyning steeds nie sin vir sy geliefdes nie. “Wat ook al uitkom, moet uitkom,” sê Angelique, en voeg by dat sommige mense meen sy het iets met sy verdwyning te doen.

“Ons hoop vir die beste: dat hy veilig tuiskom, of ten minste dat ons hom vind sodat ons kan weet wat om volgende te doen.” Sy vra dat, as hy dié berig lees, hy asseblief van hom moet laat hoor. “Ons kan nie so aangaan nie.”

Enigiemand met inligting kan die Klerksdorp-polisie by 018 464 5079 bel of Angelique by 071 175 6288 nader.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.