Central SA
Dubbele seën vir Noordwes-gesin ná meisie se kankerstryd─── CHARNÉ VAN DER MERWE 20:34 Wed, 10 Dec 2025
Vir ’n gesin van Rustenburg in Noordwes is daar dubbele vreugde ná ’n paar jaar van vrees en uitdagings.
Ná die onsekerheid van hul oudste dogter se kankerdiagnose vier hulle nou ’n dubbele seën: Haar kanker is in remissie én ’n nuwe baba sluit haar binnekort by die gesin aan.
Mieke was slegs agt jaar oud toe die Van den Berg-gesin se wêreld in ’n oogwink verander het. Terwyl sy haar broer, Nathan (nou 8), se gr. R-opedag in 2022 bygewoon het, het sy skielik in haar ouers se arms inmekaargesak.
Dit was die begin van ’n warrelwindtydperk van bloedtoetse, nooddruppels, ’n op-en-af-ryery tussen hospitale – en die ontnugterende besef dat iets baie ernstigs skort.

Mieke in die hospitaal. Foto verskaf
Mieke het net voor haar diagnose met tye bleek geword, gekla van hoofpyn en ook gesukkel om op die swartbord by die skool te sien, sê Monique, haar ma. “Ons het haar oë laat toets en haar ook aangemoedig om meer te eet.”
Niks kon hulle egter voorberei op die diagnose wat gekom het ná verdere toetse nie: akute limfoblastiese leukemie.
Monique onthou die oomblik toe die dokter die nuus oorgedra het. “Om so iets te hoor laat jou hele wêreld uitmekaarval. Skrikwekkende gedagtes jaag gelyktydig deur jou gedagtes.”
Die eerste jaar was die moeilikste. Rustenburg het geen pediatriese onkologie-eenheid gehad nie en die gesin is van hospitaal na hospitaal gestuur: Life Peglerae in hul tuisstad, Netcare Acacia in die noorde van Pretoria, Netcare Unitas in Centurion, asook die dr. George Mukhari- akademiese hospitaal in Garankuwa – elk met sy eie roetines, reëls en uitdagings.

Die Van den Berg-gesin Christo, Nathan, Mieke en Monique. Foto verskaf
“In sommige hospitale is slegs een ouer toegelaat om te bly; in ander is ouers glad nie toegelaat om oor te slaap nie,” vertel Christo, Mieke se pa.
Teen daardie tyd het hy reeds ses maande in Pretoria gewerk en drie maande lank elke naweek Rustenburg toe gery.
Volgens Monique het Mieke in ’n stadium heeltemal ophou eet en haar gewig het afgeneem tot net 14 kg. “Dokters moes ’n voedingsbuis aanbring, en sy het 23 dae (in afsondering) deurgebring terwyl hulle geveg het om haar te stabiliseer. Ná byna ’n maand se behandeling is sy uiteindelik toegelaat om huis toe te gaan.”
‘Dokters was onseker wat die episodes veroorsaak het’
Maar, ná skaars drie dae by die huis, het Mieke se toestand skieilik versleg op 19 Maart 2023. Sy het agt toevalle in net vier uur gekry.
“Dokters was onseker wat die episodes veroorsaak het, en dringende bloedtoetse is gedoen terwyl hulle gewerk het om haar te stabiliseer. Sy is eers na Peglerae geneem vir waarneming, en toe per ambulans na die dr. George Mukhari-hospitaal geneem waar sy vir 14 dae noukeurig gemonitor is.”
Volgens Monique was Mieke in ’n stadium so swak, sy kon nie meer loop nie. “Maande lank het sy ’n loopraam gebruik, en stadig maar seker weer op haar eie begin loop.”

Die gesin by die see tydens Monique se kanker-reis. Foto verskaf
Die gesin het in April 2023 na Pretoria verhuis om nader aan die hospitale te wees en saam te woon, maar het in Mei vanjaar na Rustenburg teruggekeer.
Nathan (destyds 6) het gesukkel om te verstaan hoekom sy suster pal in die hospitaal moes wees. “As jy so jonk is, begryp jy nie ten volle wat gebeur nie, en soms voel jy jaloers.
“Ons het regtig hard probeer om hom soveel aandag moontlik te gee en hom by alles te betrek. Ons het hom saam met ons hospitaal toe geneem sodat hy kon sien hoe dinge werk en hy sy suster se hand kon vashou.”
Lewe tussen hoop en vrees
Emosioneel het die ouers tussen vrees en hoop geleef. “Daar was dae wat ek Mieke vasgehou en elke rib en werwel gevoel het. Ek het God vir krag gesmeek. Die aande was vir my die ergste omdat ek nie geweet het of sy die nag sou oorleef nie.”
Elke verbeterinkie in Mieke se toestand was soos ’n groot oorwinning vir die gesin, veral die dag toe sy op haar eie ’n paar treë kon gee. Christo onthou nog hoe hy die video van Monique ontvang het terwyl hy by die werk was. “Dit was soos om my kind vir die eerste keer weer te sien,” sê hy. “Daardie paar treë het gevoel soos berge wat versit word.”
Verlede jaar was daar uiteindelik goeie nuus: Mieke se behandeling kon voortgaan in Netcare Unitas, en die gesin het van Rustenburg na Centurion verhuis om nader aan die hospitaal te wees.

Nathan kon nie altyd verstaan waarom sy sussie heeltyd in die hospitaal is nie. Foto verskaf
Stadig het haar liggaam begin genees. Vroeg vanjaar het die dokter ’n dapper besluit geneem: staak die chemo en monitor haar noukeurig.
Vyf rondes toetse het gevolg. Vyf lang wagtye vir uitslae. Vyf oomblikke wat hul asem opgehou het. En uiteindelik: die antwoord waarvoor hulle gebid het.
Mieke se toetsuitslae het gewys haar bloed funksioneer soos enige ander kind s’n, hoewel haar immuunstelsel steeds broos is. Sy en Nathan kon ook teruggaan skool toe ná jare van tuisonderrig.
Die gesin is ook vol vreugde terwyl Monique voorberei om kort ná Kersfees nog ’n babadogtertjie te verwelkom.

Die gesin voor die Voortrekker-monument in Pretoria. Foto verskaf
Geloof was hul anker. Die gemeenskapsondersteuning, van skole, motorfietsryersorganisasies, vriende en hul uitgebreide familie, het hulle deur van die moeilikste oomblikke gedra.
Monique moedig ouers, wat deur ’n soortgelyke stryd gaan, aan om styf aan hul geloof vas te hou. “Skep moed, bly naby die Here en vertrou dat jy hierdeur sal kom. Soms verstaan jy eers die krag wat jy gehad het wanneer jy aan die ander kant van die storm staan.”
Christo sê elke gesin moet onthou hulle is nie alleen in hul stryd nie. “Hou vas aan die Here en vertrou die dokters; God gebruik hulle as werktuie om ons kinders te red. Die storm het ons nie gebreek nie, dit het ons sterker gemaak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

