Central SA
Man (30) van Raaswater vas ná reuse-dwelmvonds op plafon─── 13:00 Thu, 11 Dec 2025
’n Man (30) is op Raaswater, suid van Upington, aangekeer nadat die polisie tydens ’n klopjag op ’n groot hoeveelheid dwelms op die plafon van ’n huis afgekom het.
Die Noord-Kaapse polisie sê die operasie was deel van hul veldtog om die feestyd veiliger vir inwoners van dié provinsie te maak. Hulle het Dinsdag (9/12) op ’n wenk gereageer oor beweerde dwelmhandel vanuit die woonplek.
Beamptes van die ZF Mgcawu-distrikstaakspan en Upington se eenheid vir misdaadvoorkoming het flink gereageer en ’n deursoekingslasbrief bekom, waarna hulle op die perseel in Raaswater toegeslaan het, vertel sers. Omphile Masegela, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die span het die nodige deursoekingslasbrief verkry en op die Raaswater-eiendom toegeslaan. Foto: SAPD
Hul gekoördineerde soektog het hulle uiteindelik na ’n ongewone wegsteekplek gelei. Die beamptes het op die dwelms afgekom in ’n houer op die huis se plafon. Daarin was ’n aansienlike hoeveelheid tik (metamfetamien) en mandrax-tablette met ’n gesamentlike geskatte straatwaarde van R140 200.
Die verdagte is terstond in hegtenis geneem. Hy is bly in polisieaanhouding op Upington tot hy daar in die landdroshof voorkom op aanklagte van dwelmhandel.
Die polisie loof die informant vir die waagmoed om die dwelmsmokkelary aan te meld, wat gelei het tot die inhegtenisneming van die vermeende handelaar.
“Die polisiediens belowe om alle misdaad hierdie feestyd uit te roei,” voeg Masegela by. Wetstoepassers sal ’n sterk teenwoordigheid handhaaf en hul optrede verskerp om misdaad dié feestyd en daarna uit te roei.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs

