Central SA
Drie verdagtes Vrydag in hof ná moord op afgetrede onnie van Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:37 Thu, 11 Dec 2025
Drie verdagtes kom na verwagting Vrydag (12/12) voor in die Bishop Lavis-landdroshof in Kaapstad ná die moord op ’n afgetrede onderwyseres van Bloemfontein.
Die verdagtes is onderskeidelik Woensdag en Donderdag in hegtenis geneem, sê kol. André Traut, Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder. Karin van Aardt (64) het Vrydag (5/11) aan haar beserings beswyk nadat die grypdief na bewering probeer het om haar handsak te steel.
Traut het aan OFM Nuus bevestig die eerste verdagte, wat aanvanklik Donderdag (11/12) sou verskyn het, kom nou saam met sy vermeende medepligtiges Vrydag voor.

Karin en haar man, Herman. Foto verskaf
Sy en haar man, Herman, wat in Mbombela woon, het Kaap toe gevlieg van die Internasionale Lughawe Kruger-Mpumalanga om hul kleinkind se verjaardagpartytjie op Vredenburg, 150 km van Kaapstad, by te woon. Nadat hulle ’n huurmotor gekry het, het die GPS hulle met die N2 langs gelei en op Jakes Gerwelrylaan in Langa laat afdraai.
Terwyl hulle in die verkeer by die verkeerslig op die hoek van Jakkalsvleilaan en Jakes Gerwelrylaan in Bonteheuwel gewag het, is die ruit aan Karin se kant stukkend geslaan en Karin meermale in die bors gesteek.
Karin het in 2018 as gr. 3-onderwyseres aan die Primêre Skool Universitas (Tjokkies) afgetree.

JP Smit, Kaapstadse burgermeesterskomiteelid vir veiligheid. Foto: Facebook/JP Smit
JP Smit, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, loof Bishop Lavis se polisie, die stad se wetstoepassing, metropolisie, en die stad se eenheid vir veiligheid- en sekuriteitsondersoeke, asook veiligheid- en sekuriteitsinligtingbestuursdienste vir hul “uitstekende werk en die vinnige inhegtenisneming” van die verdagte.
“Hul gekoördineerde optrede toon hoe noodsaaklik noue samewerking tussen agentskappe is.”
Smit sê die Stad Kaapstad sal steeds saam met die polisie werk en help met bewyse van kringtelevisie en enige nuttige inligting.
Breër vennootskappe noodsaaklik
“Die Buurtveiligheidsbeamptes het Woensdag (11/12) pamflette in Langa versprei en inwoners aangemoedig om met inligting vorendag te kom om die sindikate agter hierdie aanvalle te identifiseer.”
Volgens Smit was daar reeds voor die insident nuwe strategieë ondersoek om grypaanvalbrandpunte aan te pak. “Breër vennootskappe is noodsaaklik om beide inwoners en besoekers te beskerm.”
Hy het ook die het die behoefte aan geïntegreerde ontplooiings, sterker informantnetwerke, geteikende ondersoeke en meer tegnologie opgemerk.

Foto: Facebook/Primêre Skool Universitas - Tjokkies
“Ek doen ’n beroep op die aanklaer om borgtog teen te staan. Die enigste manier om hierdie gewelddadige aanvalle te bekamp, is om te verseker dat gevaarlike misdadigers uit die samelewing verwyder word.
“Die beweerde optrede in hierdie saak het die ergste moontlike uitkoms gehad, en dit is waarskynlik dat ander ook daaronder gely het,” sê Smit.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

