On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verkeerdevlei-boere vrygespreek ‘weens onbetroubare getuies’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:50 Thu, 11 Dec 2025

Verkeerdevlei-boere vrygespreek ‘weens onbetroubare getuies’ | News Article
Die drie beskuldigdes in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Drie boere van Verkeerdevlei is ná langer as twee jaar vrygespreek nadat hulle aangekla was van verskeie oortredings voortspruitend uit ’n beweerde voorval van veediefstal.

Die Smith-susters Janné en Lize-Mari het Donderdag (11/12) vir oulaas saam met Hendrik Steyn in die Brandfortse landdroshof voorgekom. Hulle is aangekla van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling.

Landdros Rasheed Matthews het al drie onskuldig bevind en gesê die vyf getuies se getuienis was onbetroubaar en verskeie verklarings was teenstrydig. Die getuies was Sello Nono Justinus en sy twee seuns (16 en 21), Andries Bornman (’n buurman van die Smith-susters) en sers. Ntombi Lydia Matlho, wat op die toneel was.

Die twee vroueboere het Justinus en sy seuns (toe 13 en 18) op 30 Julie 2023 voorgekeer op die R703 tussen Verkeerdevlei en Excelsior. Bornman se plaas is oorkant die pad van die susters s’n. Hulle het vermoed die insittendes van die bakkie was veediewe.

Seuns vasgebind

Die Smith-susters het die voertuig herken as Bornman s’n, en hom genader om te hoor of hy die mense ken wat daarmee op pad was.

Bornman het tydens die hofverrigtinge op 27 Junie getuig die pa, een van sy werknemers, het wel toestemming gehad het om die voertuig te gebruik, maar nie op daardie spesifieke tyd nie. Hy het na bewering die susters gevra om die pa en sy seuns daar te hou.

Die susters het na bewering die twee seuns met kabelbinders vasgebind, en daar is blykbaar ’n skoot afgevuur toe Justinus weggehardloop het. Hy het na die Verkeerdevlei-polisiekantoor toe gehardloop.

‘Hierdie is nie volwassenes nie, hierdie is kinders’

Steyn was een van die boere wat opgedaag het om die susters te help.

Volgens Bornman het Steyn die twee seuns aangerand. Een van die kinders is ook glo geskop. “Hierdie is nie volwassenes nie, hierdie is kinders. Jy kan dit nie doen nie,” sou hy herhaaldelik vir hom gesê het.

Tydens kruisondervraging het adv. Allen Simpson, Steyn se verteenwoordiger, versoek dat Matlho haar werksdagboek toon om teenstrydighede tussen haar geskrewe verklaring en haar getuienis in die hof op te klaar.

Simpson wou bevestig wat sy op die dag van die voorval in haar dagboek geskryf het. Matlho het egter getuig sy weet nie wat daarvan geword het nie.


Die Smith-susters buite die hof. Foto: Charne van der Merwe

Woensdag (10/11) tydens die verhoor het Simpson die kruisondervraging van die 16-jarige voortgesit, wat voorheen tydens ondervraging in duie gestort het. Die hof moes weer vir ’n paar minute verdaag nadat hy onder druk begin huil het.

Bornman, die tweede getuie, is toe uitgevra oor teenstrydighede in sy getuienis. Hy het erken hy het nooit ’n verklaring afgelê waarin hy sê hy het ’n aanranding gesien nie en beweer die polisie het vir hom gesê dis nie nodig nie.

Hy het getuig hy het die aanranding aan ’n kolonel genoem. Al die ander beamptes wat teenwoordig was, het skriftelike verklarings afgeneem – maar nie syne nie.

Teenstrydighede uitgelig

Simpson het betwis waarom Bornman nou eers die aanranding beskryf het en teenstrydighede in die tydlyn uitgelig: ’n beweerde slagoffer het verklaar dat die aanranding geëindig het toe Bornman opgedaag het, maar Bornman het getuig Steyn het ná hom opgedaag – wat Steyn se beweerde betrokkenheid onmoontlik maak.

LEES OOK: Brandfort-boere: Sleutelgetuie het nooit verklaring afgelê

Die drie beskuldigdes is in die vroeë oggendure van 31 Julie 2023 deur die Valke en polisie in hegtenis geneem. Ongeveer 30 polisie- en Valke-beamptes, sommige swaar gewapen, was na bewering betrokke.

Verkeerdevlei-boere terug in hof | News Article

Betogers buite die hof tydens een van die vorige hofverskynings. Foto: Facebook

Volgens beëdigde verklarings wat deur die drie beskuldigdes ter ondersteuning van hul borgtogaansoek ingedien is, is hulle aangehou onder “onbillike en ongunstige omstandighede, om die minste te sê”.

Al drie sê hulle is langer as 48 uur aangehou voordat hulle hof toe geneem is. Hulle het volgehou “die polisie het hul magte misbruik en dat hul grondwetlike regte geskend is”.

Hulle is met hul eerste hofverskyning op 2 Augustus elk op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Greg Scott Nel het die Smith-susters verteenwoordig.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.