On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ingryping dringend nodig met Noord-Kaapse paaie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Thu, 18 Dec 2025

Ingryping dringend nodig met Noord-Kaapse paaie | News Article
Die gehawende pad na Sutherland. Foto: Morné van Rooyen

’n Landbouorganisasie sê regstappe word oorweeg teen die Noord-Kaapse regering oor die voortdurende agteruitgang van paaie in die weste van die provinsie wat nou krisisafmetings aanneem.

TLU SA Noord-Kaap sê hy neem die inligting ernstig op wat verskeie distrikte aan hom deurgee oor die verslegtende stand van dienslewering. Dit is veral kommerwekkend met betrekking tot provinsiale padinfrastruktuur in Namakwaland, Karoo-Hoogland en die Hantam.

“Daar is groot kommer oor die huidige bestuur, instandhouding en funksionele vermoë van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke in hierdie distrikte,” sê Jan Palm, Noord-Kaap se streeksvoorsitter. “Inwoners, landbouprodusente en ondernemings ervaar reeds die direkte sowel as indirekte gevolge van die voortgesette agteruitgang van die padnetwerke.”

Die hele provinsiale “geel vloot”, insluitend skrapers, stootskrapers en rollers, staan en stof vergadering weens ’n gebrek aan die vereiste sertifisering by departementele operateurs. Palm sê gevolglik vind geen roetine-instandhouding of herstelwerk plaas nie, maar die departement kan ook nie sê wanneer die vloot weer in bedryf gestel kan word nie.

Die Noord-Kaapse pad is in 'n toestand. Foto: Morné van Rooyen

“In Karoo-Hoogland (Williston, Fraserburg en Sutherland) en die Hantam (Calvinia, Loeriesfontein en Nieuwoudtville) is daar, benewens twee (gekontrakteerde) operateurs, geen gesertifiseerde personeellede beskikbaar om die masjinerie te bedryf nie,” sê Palm, en voeg by geen plan is tot dusver opgestel en aan belanghebbendes voorgelê om dié probleem die hoof te bied nie.

Die departement het volgens hom gesê die gebrek aan behoorlike sertifisering dra moontlik daartoe by dat masjinerie gereeld onklaar raak. “Dit wek ernstige vrae oor interne beheermaatreëls, toesig, risikobestuur en die nakoming van wetlike en administratiewe vereistes, aangesien die masjinerie reeds geruime tyd in gebruik was sonder bevestigde operateurssertifisering,” sê Palm.

Die situasie word vererger deur ’n “duidelike leierskapsvakuum” in die streek, meen hy. “Die kontrak van die hoof van paaie vir Namakwa, Hantam en Karoo-Hoogland het in Augustus verstryk sonder dat ’n opvolger aangestel is, terwyl die adjunkhoof die departement einde Desember (verlede jaar) verlaat het.”

Foto: Morné van Rooyen

Hy sê die steekseenheid strompel voort sonder vas aangestelde bestuurders en met onvoldoende operateurs, maar bly steeds verantwoordelik vir ’n omvangryke en duur vloot.

“Ons is bekommerd dat die voortgesette agteruitgang van provinsiale paaie reeds beduidende ekonomiese skade veroorsaak, veral binne die landbou- en plaaslike sakegemeenskappe. Gemeenskappe word toenemend geïsoleer, logistieke kettings word ontwrig, en die veiligheid van padgebruikers word ernstig in gedrang gebring.”

Hy sê kommer neem ook toe oor die moontlike aanspreeklikheid vir padongelukke, beserings en sterftes weens haglike padtoestande.

Foto: Morné van Rooyen

Belanghebbendes oorweeg dit om die nasionale regering en die parlement formeel te nader. “Verdere regstappe ingevolge Artikels 33, 195 en 237 van die Grondwet, tesame met toepaslike wetgewing soos die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, sal oorweeg word as dringende ingryping, deursigtigheid en duidelike aanspreeklikheid nie spoedig volg nie.”

Foto: Morné van Rooyen

TLU SA Noord-Kaap vra die provinsiale regering en die departement van paaie en openbare werke moet deursigtige kommunikasie verseker en onmiddellik tydelike instandhouding uitvoer. “’n Duidelike, tydsgebonde plan moet aangebied word om personeelsertifisering, operasionele kapasiteit en stabiele leierskap binne die departement te herstel,” vra Palm.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.