Central SA
Oorbruggingsjaar gee oud-Tralie rigting oor toekoms─── 10:00 Thu, 08 Jan 2026
’n Jong Bloemfonteiner kan nie wag om haar studie te hervat aan Kovsies nie danksy lewenslesse nadat sy voorheen opgeskop en vir bykans ’n jaar in Nederland gaan werk het.
Helena Marais, oudleerder van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, glo jong mense se loopbaankeuse word sterk beïnvloed deur ander mense se opvattings oor hoe jou toekoms behoort te wees, of waartoe hulle dink jy in staat is. “Jou ware belangstellings word nie noodwendig in ag geneem nie.”
Sy het matriek einde 2023 met ses onderskeidings geslaag. Met so ’n uitmuntende prestasie het ’n wêreld vol moontlikhede voor haar oopgelê. In Februarie verlede jaar het sy aangemeld vir die graadkursus B.Sc. in forensiese wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Tog, sê sy, was daar reeds van die eerste dag af ’n mate van onsekerheid by haar oor haar studierigting. “As jy op skool ’n akademiese uitblinker is, word jy maklik in ’n ‘metaforiese’ kategorie geplaas wat grense stel volgens die verwagtinge van wat ander dink jou studierigting behoort te wees.”

Groettyd in Maart 2025 op die lughawe saam met Helena Marais (middel) se ouers, Jan en Lienkie, was nie sonder trane nie. Foto verskaf
Deur die loop van 2024 het Helena besef sy wou nie met die kursus voortgaan nie. Dit was ’n moeilike besluit, want “daar kleef steeds ’n stigma aan” as studente hul studie staak voordat die kursus voltooi is.
Die woord “opskop” word steeds direk verbind met ’n onvermoë of gebrek aan dissipline, meen Helena. Vir haar egter is die besluit om betyds ’n ander rigting in te slaan, een van die dapperste dinge wat ’n mens kan doen.
Al was sy in ’n stryd gewikkel om nie die mense naaste aan haar teleur te stel nie, sal sy haar ouers ewig dankbaar bly, wat haar ten volle ondersteun het in haar besluit.
“My pa se wyse raad – om deur dié besluit die beheer oor my lewe terug in my eie hande te neem – het my deurentyd bygebly.”
Helena het besluit om vir ’n jaar as kinderoppasser vir twee seuntjies, Elias en Axel, op die Nederlandse dorp Blaricum te gaan werk. “Vir my was dit nodig om ’n tree terug te gee om ’n blik op die volle prentjie te kry. Om oorsee te gaan was beslis ’n besluit waaraan ek dikwels getwyfel het, veral aan die begin.”
Dit was nie net maanskyn en rose nie. “Maar, dis soms nodig om in ’n onbekende land te verdwaal en dan te besef waartoe jy in staat is, deur ’n bietjie vertroue in jouself te bewerk en die pad terug te vind!” voeg sy laggend by.
Die groei wat 2025 haar gebied het, sal altyd ’n rigtingwyser bly. Wat aanvanklik soos ’n ontvlugtingsplan gevoel het, het verander in ’n tydperk waarin sy verantwoordelikheid moes aanvaar vir die kinders na wie sy moes omsien, waarin sy openbare vervoer moes ontsyfer in ’n vreemde taal, en waarin sy soms moes aanvaar haar hele lewe was in ’n tas gepak.

Helena Marais het ook die die prentjiemooie Bern in Switserland besoek. Foto verskaf
“Ook het die tyd wat ek saam met die kinders deurgebring het, my ’n ander, belangrike lewensles geleer: Dis nie altyd nodig om die lewe te ernstig op te neem nie.”
Haar doel met ’n jaar oorsee was om ’n rustige besluit te neem oor haar studie.
“Wat die jaar my egter geleer het, is dat so ’n jaar nie noodwendig die keuses vir my makliker gaan maak nie. Dis eerder ’n leerproses waartydens jy besef dat jy oor die vermoë beskik om aan te pas en ’n lewe vir jouself te skep uit alles én uit niks. Jy kan wel vlug, maar ongelukkig moet jy jouself altyd saamvat.”
Vanuit Nederland het sy met die mense wat haar die beste ken en met vreemdelinge gesels en aansoeke by verskillende universiteite ingedien. “Ek het die Here gevra om die deure wat moet oopgaan, vir my oop te maak en die res te sluit.”
Sy erken daar is steeds heelwat onsekerhede wat opduik op haar pad. Waarvan sy egter doodseker is, is dat sy opgewonde en met ’n hart vol passie uitsien na Februarie wanneer sy die BA-graad in drama aanpak.
Op 22 Desember het die vreugdevure inderdaad hoog gebrand toe haar ouers, Johan en Lienkie, haar op die lughawe ingewag het. Sy weet hulle het baie verlang. Tog het hulle haar die geleentheid gegun om, soos sy sê, “die koördinate wat my lewenverhaal te skryf, uit te brei”.

Helena Marais het Elias en Axel op ’n uitstappie in Hei in Blaricum, Nederland, afgeneem. Foto verskaf
Haar raad aan ouers is om hul kinders te vertrou om die wêreld aan te durf met die rugsak vol waardes en vermoëns wat hulle hul kinders gegee het. “Maak ook seker jou kinders weet altyd daar is ’n tuiste in jou huis waarheen hulle kan terugkom om die nuwe stories wat hulle saamdra, vir jou te kom vertel.”
En hoe ervaar hierdie wêreldwyser jongeling haar eie land ná al haar wedervaringe in die vreemde? “Daar is geen plek soos Suid-Afrika nie.”
Die verste gras is nie die groenste nie, weet sy nou. “Wanneer ek moeg gereis is, wil ek steeds graag op die grasperk in my eie tuin gaan sit en verdwaal in die Bloemfonteinse sonsondergang.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cvs/dg

