Central SA
Vrystaatse ma en baba reeds drie dae vermis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Mon, 16 Feb 2026
Die Vrystaatse polisie vra hulp in hul soektog na ’n ma en haar baba wat onder kommerwekkende omstandighede weggeraak het.
Ane Pienaar (36) se lewensmaat het haar en haar baba (11 maande) Vrydagoggend (13/2) laas gesien toe sy die huis verlaat het om werk toe te gaan. Toe hy later daardie dag van die werk af by die huis kom, was Pienaar en die baba nie by die huis.
“Hul klere was ook weg en die sleutel van die huis is na bewering op ’n venster gelaat,” sê ao. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder.
Soektog
Die omstandighede van hul verdwyning is verdag en die polisie het ’n soektog van stapel gestuur om hulle op te spoor.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan kapt. Vusimusi Zwane by 060 976 4290 bel, Stop Misdaad by 08600 10111 of dien ’n wenk naamloos in met die MySAPS-app.
Intussen word ’n Vrystaatse weermaglid vermis nadat sy laas op 7 Februarie gesien is. Phangoa Motlalepule (39), ’n inwoner van Turflaagte in Bloemfontein, is laas gesien toe sy glo op pad was na haar werk op die Tempe-basis, sê sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Phangoa Motlalepule is steeds vermis. Foto: SAPD
“Maj. M.M. Truter, Motlalepule se bevelvoerder in die SANW op die Tempe- militêre basis, het aan die polisie gesê sy het die huis omstreeks 08:30 verlaat. Sy was glo op pad werk toe, maar sy het nooit opgedaag nie.”
Motlalepule is laas gesien in ’n swart rok en grys skoene.
Volgens Mpakane het die weermag onmiddellik alarm gemaak toe Motlalepule nie vir haar skof aanmeld nie.
Die polisie vra enigiemand om na vore te kom wat dalk weet waar sy haar bevind. Bel speurdersers. Tibi Richard Mahlatsi, ondersoekbeampte, by 082 706 9027, Stop Misdaad by 08600 10111 of gebruik die MySAPS-app.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg
