Central SA
Sannieshof: ‘Outisme is my superkrag’ – bewusmakinggholfdag gehou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:46 Thu, 05 Mar 2026
Geen ouer behoort alleen te voel wanneer uitdagings sy of haar kind in die gesig staar nie.
’n Gholfdag ten bate van outismebewustheid wil lig werp op ’n diagnose wat steeds wyd misverstaan word. Die dag met die tema “Outisme is my Superkrag” wil ’n geleentheid skep om kinders met outisme te ondersteun, gesinne te bemagtig en te wys elke kind verdien ’n plek in die samelewing.
April is Outismebewustheidsmaand en die gholfdag, ’n eerste vir Sannieshof in Noordwes, vind op 25 April by die plaaslike gholfklub plaas. Die geleentheid dien ’n dubbele doel: om outisme in die gemeenskap te beklemtoon, en om noodsaaklike geld in te samel vir die Waak in Gebed-fonds (Sannieshof) en die Emrike-leersentrum (Lichtenburg), sê Leandri von Moltke, een van die organiseerders.
“Hierdie geld sal gebruik word om professionele terapie, opvoedkundige programme, hulpmiddels en hulpbronne te verskaf wat outistiese kinders bemagtig om te leer, te kommunikeer en betekenisvol in die samelewing te integreer.
“Gesinne in die gemeenskap (sien) daagliks die werklikhede van outisme, en hierdie geleentheid is hul manier om die breër gemeenskap te help om hierdie kinders te verstaan en te omhels,” sê Von Moltke.
Die dag beloof iets vir almal: gholfspelers, gesinne en ondernemings. Aktiwiteite sluit ’n verskeidenheid opsies vir kinders in, soos springkastele, sagte speelplek, Zipline, en speelparke, terwyl volwassenes gholf, stalletjies, ’n restaurant en ’n kontantkroeg kan geniet.
Ondernemings kan ook bydra deur pryse te borg, stalletjies te huur of deur skenkings. Alle opbrengste gaan na die ondersteuning van programme vir outistiese kinders, sê Von Moltke.
Hoewel dit die eerste jaar is wat die geleentheid spesifiek aan outisme gewy is, het die Sannieshof-gholfklub ’n geskiedenis van gemeenskapsprojekte, van geldinsameling vir droogteverligting tot die ondersteuning van dringende mediese behoeftes.
Die organiseerders hoop dit sal ’n jaarlikse tradisie word wat gemeenskapsbande versterk terwyl dringende in maatskaplike behoeftes voorsien word.
“Ons hoop om deur die dag meer bewusmaking te skep oor outisme. Deur saam te kom, poog ons om te verseker dat elke kind met outisme nie net verstaan word nie, maar werklik ingesluit word – want dit verg ’n dorp om hulle almal groot te maak.”
Registrasie begin om 07:30 vir 08:00. Die gholfdag sal die formaat van ’n vierbal- Amerikaanse Scramble aanneem. Inskrywingsgeld beloop R1 000 per vierbal, en alle spelers moet in blou dra. Stalletjies kan bespreek word teen R100.

Die Waak in Gebed-fonds is toegewy aan die ondersteuning van kinders met leerprobleme, en bied die ekstra hulp wat hulle nodig het om hul volle potensiaal te verwesenlik. So kry kinders toegang tot noodsaaklike terapie soos arbeidsterapie, spraakterapie en sielkundige ondersteuning volgens hul individuele behoeftes.
Die sewe jaar oue organisasie het reeds ’n betekenisvolle uitwerking op talle kinders en hul gesin gehad deur mediese uitgawes soos doktersgeld, skanderings en ander nodige behandelings te dek. Die fonds het ook ’n volledig toegeruste terapiekamer geskep, kompleet met spesialishulpmiddels waarmee terapeute effektief kan werk en kinders help floreer.
Benewens terapie verseker die fonds voortdurende opvoedkundige ondersteuning deur ’n heeltydse onderwyser wat nou saam met die kinders werk. ’n Spesiaal aangepaste stoel is vir een van die leerders aangekoop wat sy daaglikse lewe verbeter, met sy ontwikkeling help en hom in staat stel om vollediger aan aktiwiteite deel te neem.
Bespreek by Leandri by 082 944 7137, en rig navrae aan Carien van den Berg by 082 555 1858.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.



