Central SA
Noord-Kaapse meisie (9) sterk aan ná slangbyt─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:28 Wed, 08 Apr 2026
’n Negejarige meisie van Kathu in die Noord-Kaap sterk goed aan ná ’n skrikwekkende ontmoeting met ’n slang tydens ’n gesinsvakansie op Cintsa aan die Wildekus.
Carmi Louw het Donderdag (2/4) buite hul vakansiehuis gespeel toe sy ’n maatjie wou groet. “Reg langs die strandmeer het sy iets gevoel en afgekyk,” sê haar ma, Melanie Louw. “Sy het die slang gesien, hy het weer probeer pik maar sy het geskree en gehardloop.”
Die gesin het hul na die naaste hospitaal gehaas en binne 40 minute by die Life St. Dominic’s-hospitaal in Oos-Londen aangekom. Carmi is later oorgeplaas na die waakeenheid in die Life Beacon Bay-hospitaal, ook in Oos-Londen.
Dokters vermoed pofadderbyt
Dokters het aanvanklik ’n pofadderbyt vermoed omdat die wond so vinnig agteruitgegaan het. Die volgende dag was haar been erg geswel.
“Teen 09:00 was Carmi se been baie styf en geswel,” vertel haar ma. “Daar is besluit om teengif te gee en die teater is vir 14:00 bespreek om drie lang snye in haar been te maak om die druk te verlig.
“Sy het ondraaglike pyn ervaar en ons kon nie aan haar been raak nie. Carmi was bang, maar het verbasend kalm gebly. Sy was ’n klein kampioen.”
'Dit voel asof hele SA saam vir Carmi bid'
Haar wonde is Sondag skoongemaak en die snyprosedure was suksesvol verklaar. Nou begin die herstelproses wat volgende haar ma fisioterapie, traumabehandeling, wondsorg en hul “geloof en vertroue in Jesus” behels.
Sy is nog onseker wanneer Carmi haar skandering sal kry of wanneer hulle huis toe sal kan gaan, maar hulle hoop om teen Donderdag duidelikheid te hê. “Dit hang alles af van hoe goed haar liggaam op die teengif reageer,” sê Louw.
Sy prys die mediese span en gemeenskapsondersteuning. “Elke liewe dokter en verpleegpersoneellid in die pediatriese waakeenheid van die Beacon Bay-hospitaal is fenomenaal. Dit voel asof amper die hele SA saam vir Carmi bid … Ons is broos, maar ons staan sterk vir haar en hou vas aan die Here se genade.”
Johan Marais, hoof van die Afrika-slangbyt-instituut in Pretoria-Oos, waarsku dat slange se aktiwiteit weens warmer weer en langer reënseisoen verhoog. “Mense moet bewus wees van hoe om op te tree wanneer hulle ’n slang teëkom en veral wat om nié te doen nie.”
‘Slange jaag nie mense nie’
Die belangrikste eerste stap wanneer mens onverwags op ’n slang afkom, is om onmiddellik weg te beweeg. “Ongeveer vyf treë van ’n slang af is ’n veilige afstand. Geen slange jaag mense nie,” sê Marais.
Hy waarsku mense daarteen om te probeer om ’n slang dood te maak of te vang nie. “Moet nooit ’n slang met braaitange probeer vang nie – dit vra vir moeilikheid en die slang sal beslis probeer byt.”
Daar is dikwels verwarring oor of ’n mens moet stilstaan of spore maak. Volgens Marais is dit beter om vinnig afstand te skep. “Daar word dikwels gesê jy moet stil staan, maar ek verkies dat mense vinnig wegbeweeg. Sodra jy meer as vyf treë weg is, sal jy beslis nie gebyt word nie.”
'Moenie slang met braaitang probeer vang'
Talle slangbyte gebeur weens roekelose optrede. “Mense probeer slange doodmaak, skiet roekeloos met ’n geweer of nog erger: Hulle gryp die slang aan die stert of probeer dit agter die kop vashou.”
Kinders is veral kwesbaar; daarom moet ouers ekstra versigtig wees. “Kinders moet op paadjies bly en snags met ’n flits loop. Baie kinders word deur slange gebyt,” waarsku Marais.
Indien mens wel gepik word, is dit noodsaaklik om kalm te bly en so gou moontlik by ’n hospitaal uit te kom. “Vermy alle huismiddels, sny en suig, stywe verbande, ensovoorts. Dit is beter om by ’n hospitaal uit te kom.”
Die slang moet geïdentifiseer word. “’n Foto kan help, maar dokters behandel simptome en nie slangspesies nie. Hulle sal bloedtoetse doen en simptome soos swelling en ’n daling in bloedsuiker monitor. Nege uit tien pasiënte wat in die hospitaal opgeneem word, kry nie teengif nie omdat die simptome dit nie regverdig nie.”
Vinnige mediese behandeling
Vinnige mediese behandeling kan deurslaggewend wees, veral met sekere giftige slange. “In ernstige swartmamba- en Kaapse kobra-byte kan ’n pasiënt ophou asemhaal. In baie ernstige gevalle kan dit binne ’n uur gebeur, of binne ’n halfuur by klein kinders. Hospitale het fasiliteite om pasiënte te intubeer en te ventileer.”
Ondanks algemene vrese sê Marais slange pik nie noodwendig méér mense in vakansieoorde nie. “Die meeste slangbyte kom in die Laeveld en Noord-KwaZulu-Natal voor. Daar is geen data wat bewys vakansiedorpe is meer riskant nie. Byte gebeur hoofsaaklik snags wanneer mense op slange trap.”
Hy waarsku ook teen gevaarlike mites. “Die gebruik van stywe verbande of om die bytplek te sny, is gevaarlik. Slanggif kan nie uitgesuig word nie. Die enigste behandeling vir ’n ernstige slangbyt is teengif; niks anders help nie.”
Weerstoestande speel ook ’n groot rol. “Die meeste slangbyte kom in warm weer voor, van Oktober tot April, veral wanneer dit warm en reënerig is,” sê hy.
Vir mense wat in slanggebiede woon of vakansie hou, is voorkoming die beste beskerming. “Hou jou erf skoon, verwyder boumateriaal en kliphope. Water lok paddas, en hulle lok slange. Kos wat buite gelos word, lok rotte, en dit trek weer slange aan,” sê Marais.
OFM Nuus/Charne van de Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


