Central SA
Bethlehem-onnie leef voluit met drie niere─── SUSAN MARÉ 10:26 Mon, 15 Jun 2026
’n Onderwyser van die Oos-Vrystaat se jare lange stryd teen niersiekte het hom geleer daar’s dinge wat ’n mens nie in boeke leer nie.
Jy leer dit in wagkamers, op hospitaalbeddens. ’n Stil hand op ’n bed se rand. ’n Ontwykende blik. ’n Stem wat te vinnig praat omdat stilte te veel sê. Woorde is nie altyd nodig nie. Soms is teenwoordigheid genoeg.
Henry du Plessis, ’n onderwyser aan Maluti-Hooglandskool op Bethlehem, skryf in sy outobiografie, My lewe in ’n hartklop, dis opgedra aan almal wat hom jare lank gedra het toe hy self nie meer kon nie.
Die verhaal van sy lewe met dialise en twee nieroorplantings is ook bedoel as ’n inspirasie en bemoediging vir almal wat soortgelyke uitdagings die hoof moet bied.

Die omslag van Henry du Plessis se boek. Foto verskaf
Ná twee nieroorplantings het hy vandag drie niere. Die eerste oorplanting was van sy ma, Veny, se skenking, wat ongelukkig nie suksesvol was nie, maar die tweede oorplanting van ’n ander skenker was wel.
Veny het jare lank die winkel Scribbles op Bethlehem gehad wat skryfbehoeftes, geskenkies en parfuum verkoop het. Sy ouma het saam met sy ma gewerk, en aan die einde van elke dag die wins opgeteken.
Later, toe hy siek word, het sy in dieselfde boek alles neergeskryf wat met hom gebeur het. Elke infeksie, elke hospitalisering, elke operasie en elke belangrike datum. Hierdie tydlyn in die boek was waardevol toe hy sy boek begin skryf het.
Iets skort
Hy was ’n leerder aan die Hoërskool Witteberg toe iemand tydens die groot derby teen die Bethlehem Voortrekker Hoërskool vir hom gesê: “Henry, jy lyk vir my baie bleek. Ek dink jy moet bloed laat trek sodat ’n dokter na jou ystervlakke kan kyk.”
Nadat die toetsuitslag gekom het, het die dokter gesê sy yster lyk reg, maar iets anders skort. Hy is in die hospitaal opgeneem vir nog toetse.
Op 5 Junie 2017 het die dokter die woorde gesê wat sy lewe sou verander. Sy nierfunksie was net 6% en hy het ongeveer die helfte bloed gehad wat sy liggaam nodig gehad het.
Tog het die skraal seun elke dag skool bygewoon, rugby gespeel en geleef asof niks fout is nie. Skielik was daar vir hom net twee moontlikhede – drie keer per week dialise of ’n nieroorplanting.
Die waarskuwing was dat mens tot 15 jaar op ’n geskikte nierskenker kan wag. Hy en sy gesin was platgeslaan en verslae. “My ouers het na mekaar gekyk, maar niemand het gepraat nie. Ek het gehoop dat ek net droom en wakker sou skrik uit hierdie nagmerrie. Ek was verward, deurmekaar, bang en stil.”
Die dag ná die uitslag het Henry ’n tydelike dialiselyn in Hoogland Mediclinic in sy bors gekry. Hy het vasgekeer gevoel, maar moes oorgee.
‘Ek het in daardie dae geleer om stil te word’
“Die prosedure is onder ligte sedasie in my hospitaalbed gedoen. Ek onthou die helder ligte bo my en hoe ek stilgebly het omdat ek nie wou huil nie. Ek het net gedink: ‘Hoekom ek, Here?’”
So het vier uur lange dialise drie keer per week deel van Henry se lewe geword. Dit was ’n nuwe wêreld van masjiene, pype en alarmgeluide. “Ek het in daardie dae geleer om stil te word. Om te wag, om te glo en om elke asemteug as ’n seëning te ervaar.”
Ná ’n paar weke het die dokter verduidelik ’n nieroorplanting is eintlik die enigste werklike kans op ’n nuwe lewe. Sy ma het dadelik gesê sy wou haar laat toets vir ’n nierskenking.

Henry du Plessis en sy ma, Veny du Plessis, van Bethlehem. Foto verskaf
Nadat ’n nefroloog in Johannesburg gesê het sy ma was nie ’n geskikte skenker vir hom nie, “het die Here vir ons die volgende deur oopgemaak, onverwags, soos wat Hy dikwels doen. Die uitkoms was ’n nefroloog in Pretoria waar ons nie soos ’n lêer op ’n lessenaar behandel is nie.
“Ná deegliker ondersoeke deur ’n span medici is bevind dat my ma wél ’n geskikte skenker vir my is.” Die mediese prosesse het maande geduur. Sy linkernier het ’n volle refluks gehad, was beskadig en moes verwyder word voor ’n oorplanting.
Die nag voor sy opname in die hospitaal in Pretoria het hy en sy pa in ’n gastehuis oornag. Daardie nag het Henry gedroom hy stap saam met iemand op ’n steil grondpad. Hy sien toe ’n muntstuk in die sand lê.
Mossies op ’n muntstuk
Toe hy dit optel, merk hy die twee voëltjies wat op die muntstuk afgedruk is. Die persoon probeer die muntstuk van hom wegneem, maar hy keer en sê net: “Néé.”
Sy dominee-oom het hom die volgende dag in die hospitaal besoek. Hy het vir hom uit Matteus 10:29-31 lui: Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.
“Ek het nie eens geweet dat daar twee mossies op ’n eensentmuntstuk was nie, want dit was ’n munstuk voor my tyd.”
Henry het vir sy oom van die droom vertel. Toe hulle hom teater toe stoot het hy met toe oë ’n prentjie gesien van engele wat om sy bed staan, wat saam met hom die teater binnegaan vir die oorplanting van sy ma se nier.
Maar ná die prosedure kon hy sien iets skort. Toe sê die medici: “Ons moet jou terugneem na die teater. Daar is ’n bloedklont. Dit keer dat die bloed sekere dele van die nier bereik.”
Hy het gehuil soos iemand wat iets verloor het. Sy vrees, teleurstelling en skok was diep. Terug teater toe! Daarna het ’n lang en veral emosionele stryd gevolg. Hy het sy ma se nier gekry en ook nie gekry nie, en sou weer dialise moes kry soos voorheen.
“Vir my was die moeilikste deel nie net die masjien nie, maar die druk. Ek moes matriek te midde van dit alles klaarmaak. Die lewe daarna was vir my soos ’n aaneenlopende noodsituasie.”
In 2018 het Henry minstens ses operasies gehad. In 2019 nog drie of meer. Infeksies. Opnames. Prosedures. Wagkamers. Pyn.
‘Later sou hy besef sy geloof het … net stiller geword, breekbaarder’
Hy was kwaad vir God, onseker, en het nie geweet hoe geloof moet lyk wanneer alles breek nie. Later sou hy besef sy geloof het nie verdwyn nie. Dit het net stiller geword, breekbaarder.
Terug op dialise het hy besef daar is nog hoop. Die dialisemasjien is net tydelik – en dat hy stil sal wag vir ’n nierskenking. Hy is terug skool toe en moes normaal aangaan en aanvaar sy lewe sal rondom dialise moet draai.
Sy matriek het oor drie jaar, van 2017 tot 2019, gestrek. Die destydse skoolhoof, Coenie Venter, se voorstel dat hy sy matriek oor twee jaar doen, eers vier vakke, dan drie, was vir hom ’n plan vol wysheid en deernis. So het hy, “die siek seun”, sy matriek behaal. Matriek was vir hom ’n oorlewingstaak.
Hy wou graag ’n onderwyser word en het besluit om verder aanlyn aan die Noordwes-Universiteit te studeer. Dit het vyf jaar geduur om sy B.Ed.-graad te voltooi.
Skenkerlys
In November 2018 is hy op die nierskenkerslys geplaas. Nog ’n wagtyd sou volg. Dit was net ’n kans waarvoor hy kon hoop en bid.
Op ’n kerkkamp by Drakensville op 5 Oktober 2019 het hy en sy ma ’n entjie gaan stap toe hy skielik sê: “Ma, ek voel weer vir die eerste keer in ’n lang tyd reg vir ’n oorplanting.”
Dieselfde aand lui sy pa se selfoon: “Ons het vir Henry ’n nier. Julle moet so gou as moontlik Pretoria toe kom.”
Die volgende dag het hy weer ’n nier ontvang, dié keer van iemand wat gesterf het. Hy het aan sy mossiestorie gedink. Die belofte. Die wete dat niks buite God se hand gebeur nie; selfs nie die dinge wat seermaak nie.
Daar was nie by hom verwagtinge nie. Net fokus – en stilte. Die operasie het goed verloop en die nier is suksesvol oorgeplant.

“Ek wens ek kon sê dit was ’n emosionele oomblik. Dit was nie. Dit was vreemd. Vir so lank het daardie masjien my aan die lewe gehou. My dialiselyn is uiteindelik verwyder. ’n Pyp wat 24 uur per dag deel van my liggaam was.
“Dit was ’n aanpassing, want dialise het my lewe gestruktureer – my tyd, my denke, my oorlewing. Vandag leef ek om weer voluit te leef. ’n Lewe van baie medikasie, ja, maar ’n lewe van lig. Om weer te leef was – en is – ’n proses.
“Ek leef my nou uit as onderwyser aan Maluti-Hooglandskool.”
Die siekte en oorplantings het hom die mooiste kant van mense gewys. “Mense wat bid sonder om ’n groot bohaai daarvan te maak. Mense wat opdaag sonder vrae. Mense wat jou laste saam dra.
‘My siekte het my nie ’n kenner gemaak nie. Dit het my menslik gemaak’
“Siekte het my ook anders na kinders laat kyk. Veral die stil kinders. Die kind wat altyd praat maar nooit praat oor wat aangaan nie. As onderwyser het dit my pad verander.
“Ek luister anders, kyk langer, word nie ongeduldig met emosies nie, My siekte het my nie ’n kenner gemaak nie. Dit het my menslik gemaak. As daar iets is wat meer werd is as prestasie, kennis of spoed, is dit die vermoë om iemand regtig raak te sien.”
Sy boodskap aan ander pasiënte is dat jy nie alles alleen hoef te dra nie. “Jy gaan ook nie elke dag sterk wees nie. Daar gaan dae wees waarop jy vir God gaan kwaad wees – en dan skuldig voel omdat jy kwaad is. Dit beteken nie jy het jou geloof verloor nie.”
Mense wat as ’n orgaanskenker wil registreer, kan die webtuiste van Organ Donor Foundation of South Africa besoek.
My lewe in ’n hartklop kos R250 per eksemplaar en kan bestel word by 076 568 2819.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

