On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende moordenaar van Fourie-broers kry toestemming vir privaat behandeling

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:41 Thu, 18 Jun 2026

Vermeende moordenaar van Fourie-broers kry toestemming vir privaat behandeling | News Article
Deon (links) en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf

Die familie van die twee moordslagoffers van Noordwes is ongelukkig oor die suksesvolle aansoek om die broers se vermeende moordenaar na ’n ander korrektiewe sentrum oor te plaas vir privaat mediese behandeling.

Robert Joubert (75), wat daarvan beskuldig word dat hy Deon (55) en Johnathan Fourie (52) vermoor het, is na Kgosi Mampuru II in Pretoria oorgeplaas. Sy broer, Joshua, het die aansoek ingedien, sê kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Joubert ontvang privaat behandeling in die Jakaranda-hospitaal. Hy betaal self vir sy mediese koste, asook vir die wagte wat hom oppas,” sê Myburgh. Die hof het gelas dat die bevel nie neerkom op Joubert se vrylating uit wettige aanhouding nie en dat dit nie die strafregtelike verrigtinge teen hom sal opskort of vertraag nie.

Joubert is voorheen in die Potchefstroomse gevangenis aangehou. Die hof het die aansoek toegestaan en gelas dat hy Woensdag (17/6) na die hospitaal geneem mag word vir gespesialiseerde ortopediese en psigiatriese sorg.

Hy word daarvan beskuldig dat hy die Fourie-broers op 10 November in die raadsaal van die Chubby Chick-hoenderonderneming in Potchefstroom geskiet het. Die broers was direkteure van die onderneming. Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon sowat ’n maand later aan sy beserings beswyk het.

Die broers se naasbestaandes gaan antwoorde eis nadat hul poging om as belanghebbende party by Joshua se hofaansoek gevoeg te word, onsuksesvol was. Johan le Grange, ’n Potchefstroomse prokureur wat die familie verteenwoordig, het aan OFM Nuus gesê ’n dringende laat aansoek is ingedien nadat hulle Woensdag, 10 Junie, verneem het geen van die respondente was van voorneme om Joshua se aansoek teen te staan nie.

Die hof het egter geweier om die aansoek toe te staan. Le Grange sê die familie gaan nou verduidelikings eis van die direkteur van openbare vervolgings in Noordwes en die minister van korrektiewe dienste oor waarom Joshua se aansoek nie teengestaan is nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.