On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Apteker se voorskrif: Waarom word meer mense in die winter siek?

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:39 Mon, 06 Jul 2026

Apteker se voorskrif: Waarom word meer mense in die winter siek? | News Article
Die apteker Pieter Marcus, ook bekend is as Marcus die Apteker. Foto verskaf

Personeel in hospitale, spreekkamers en apteke sien elke winter ’n skerp toename in mense met verkoues, griep en ander asemhalingsiektes.

Hoewel baie mense die koue daarvoor blameer, is dit nie die winterlug wat jou siek maak nie.

Die werklike gevaar lê in virusse wat makliker versprei wanneer mense langer binnenshuis saamkuier, daar minder vars lug sirkuleer en ventilasie beperk is, sê Marcus die Apteker. “In Suid-Afrika sien ons in die winter veral meer asemhalingsinfeksies.

“Die algemeenste is verkoue, griep, sinus, brongitis en longontsteking.” Die meeste van hierdie infeksies begin as virusse, maar bakterieë kan ook ’n rol speel, veral wanneer komplikasies soos sekondêre infeksies ontwikkel.

“Wintertoestande dra grootliks by tot verspreiding. Mense bly meer binnenshuis, vensters is toe, daar is minder vars lug en mense sit nader aan mekaar, wat dit makliker maak vir kieme om tussen mense te beweeg. Koue, droë lug kan ook die neus, keel en lugweë irriteer en die liggaam se natuurlike beskerming minder doeltreffend maak.”

Met ’n gewone verkoue behoort mense binne ’n paar dae verbetering te sien. Foto: iStock

Een van die algemeenste uitdagings in die winter is dat verkoue en griep met mekaar verwar word. Marcus sê die grootste verskil lê daarin hoe vinnig die siekte begin en hoe ernstig dit voel wanneer simptome ontwikkel.

“ ’n Gewone verkoue begin meestal stadig. Jy kry eers ’n krapperige keel, dan ’n toe of loopneus, niesbuie en ’n ligte hoes. Jy kan gewoonlik nog funksioneer,” sê hy. “Griep tref jou baie meer skielik. Baie mense sê hulle was nog reg in die oggend en teen die middag voel hulle plat.”

Met griep is koors, kouekoors, lyfseer, hoofpyn en uiterste moegheid baie meer algemeen, saam met ’n droë hoes en ’n gevoel dat jy nie kan opstaan nie. By ’n gewone verkoue behoort mense binne ’n paar dae verbetering te sien, hoewel ’n hoes of toe neus langer kan aanhou.

“Ek sal my begin bekommer as simptome ná omtrent sewe tot tien dae glad nie beter word nie, of as dit eers beter raak en dan skielik weer erger word,” sê hy. Dit kan dui op komplikasies soos sinusinfeksie of longontsteking.

“Daar is duidelike waarskuwingstekens wat onmiddellike mediese aandag vereis, soos ’n gesukkel om asem te haal, borspyn, baie hoë koors, deurmekaarheid of as iemand nie vloeistof kan inhou nie,” sê Marcus.

Hy beklemtoon ook dat hoërisikogroepe, soos babas, bejaardes, swanger vroue en mense met chroniese siektes of ’n swak immuunstelsel, vinniger mediese hulp moet kry wanneer hulle siek word.

Versigtig met medikasie

Ouers moet veral oplettend wees as kinders sukkel om asem te haal, vinnig asemhaal, baie benoud raak of blouerige lippe ontwikkel. “Dit is nie gewone griepsimptome wat mens net moet verduur nie.”

Ander gevaartekens sluit in uiterste moegheid, om moeilik wakker te word, aanhoudende braking, om nie te wil drink nie of min urine. Nog ’n rooi vlag is wanneer ’n kind eers beter raak en dan weer skielik vererger.

Saam met winter kom gereeld ook oor- en verkeerde gebruik van medisyne, veral kombinasieprodukte. “Baie verkoue- en griepprodukte bevat reeds parasetamol, en dan neem mense nog ekstra sonder om te besef hulle dupliseer die dosis,” sê Marcus. Dit kan die lewer ernstig beskadig.

Hy waarsku ook teen neussproei wat die neus oopmaak. “Dit werk goed, maar moet nie langer as ongeveer drie dae gebruik word nie omdat dit ’n afhanklikheidseffek kan veroorsaak waar die neus later selfs meer toe raak.”

Hoesstrope wat kodeïen bevat, kan slaperigheid, swak konsentrasie en moontlike afhanklikheid veroorsaak indien dit verkeerd of langer as aanbeveel gebruik word.

Antibiotika is ook ’n groot probleem omdat dit dikwels verkeerdelik vir virusinfeksies gebruik word. Dit werk nie teen verkoue of griep nie en moet slegs gebruik word wanneer ’n bakteriële infeksie vermoed of bevestig word.

“Mense moet baie versigtig wees om nie verskillende verkoue- en griepmedisyne te kombineer sonder om die bestanddele te verstaan nie.”

Die grootste risiko is weer parasetamol-oordosis, maar sekere antihistamiene kan ook oormatige slaperigheid veroorsaak, veral saam met alkohol of kalmeermiddels. Neusontstoppingsmiddels kan by sommige mense hartkloppings of verhoogde bloeddruk veroorsaak.

Daar is nie ’n kitsmiddel om immuniteit te ’n hupstoot te gee nie. Die liggaam werk die beste wanneer basiese gesondheid reg bestuur word. Die belangrikste faktore is genoeg slaap, gebalanseerde voeding, water, oefening en stresbeheer. Daaglikse gesondheidsgewoontes speel ’n groter rol as enige enkele produk.

Dehidrasie maak simptome erger. Foto: iStock

“Aanvullings kan ondersteunend wees, veral by mense met tekorte. Vitamien D speel ’n belangrike rol in die winter omdat baie mense minder son kry. Hoë dosisse van vitamien C en sink kan newe-effekte veroorsaak,” sê Marcus.

“Mense drink dikwels minder water in die winter omdat hulle nie dors voel nie, maar dehidrasie maak simptome erger. Koors, sweet en swak eetlus verhoog vloeistofverlies, terwyl dik slym en hoofpyn ook kan volg. Vloeistof kan water, tee, sop of elektroliete insluit.”

Basiese voorkoming bly belangrik: Hande was, nie aan die gesig vat nie, goeie ventilasie, genoeg slaap en afstand van siek mense. Hy beklemtoon ook ventilasie as iets wat mense onderskat omdat vensters in die winter meestal toe bly.

Pas oefening aan

Selfone moet ook gereeld skoongemaak word omdat dit baie kieme dra en maklik virusse en bakterieë tussen mense kan versprei.

Gereelde oefening help om immuniteit te ondersteun, maar as iemand siek is, moet dit aangepas word. Ligte simptome kan nog stap toelaat, maar koors, borspyn of erge moegheid beteken rus is nodig.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.