On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

International

Uganda begin noodvoedsel uitdeel nadat mense van honger sterf

───   11:28 Mon, 27 Jul 2026

Uganda begin noodvoedsel uitdeel nadat mense van honger sterf | News Article
Talle mense in Uganda sterf van die honger weens die droogte. Foto: Facebook/Strike Machine

Uganda het met ’n grootskaalse noodvoedselhulpprogram begin nadat minstens 19 mense in die droogtegeteisterde Karamoja-streek van die honger gesterf het. Minstens 1,5 miljoen inwoners sukkel weens ernstige voedseltekorte en toenemende wanvoeding.

Die krisis het verdiep nadat die verwagte seisoenale reën weggebly en groot dele van die mielie-, sorghum- en sojaboonoes misluk het. Die Famine Early Warning Systems Network klassifiseer die situasie in Karamoja nou as ’n krisis en waarsku huishoudings het dringend hulp nodig.

Die Ugandese regering beplan om in die volgende twee maande 9 400 t noodvoedsel uit te deel. Die voorraad is met ’n noodtoekenning van 45 miljard Ugandese sjieling aangekoop, nadat die parlement die geld goedgekeur het om die toenemende hongersnood te probeer verlig.

Sam Engola, minister vir rampgereedheid en vlugtelinge, het die voedingprogram by ’n laerskool in die Kaabong-distrik begin. Hy sê die regering wil verseker niemand in Karamoja sterf weens honger nie.

Minstens 19 mense in Uganda het van die honger gesterf. Foto: Facebook/MR NSI UG

Boere in die streek het sedert April, toe die plantseisoen begin het, feitlik geen betekenisvolle reën ontvang nie. Angelina Nakiru (21), ’n ma van twee, werk nou by ’n klein rotsmeule om genoeg geld te verdien om ’n beker mielies en bone vir haar kinders te koop.

Gesondheidsinstellings behandel honderde kinders vir ernstige wanvoeding. ’n Voedingsverslag wat in Junie gepubliseer is, het bevind byna die helfte van die bevolking in die Kaabong- en Kotido-distrik het nie genoeg kos om te eet nie. 

Kenners skryf Karamoja se herhalende voedselonsekerheid toe aan klimaatsverandering, swak reënval, ontbossing, oorbeweiding, armoede, plae en min landbouproduktiwiteit. Meer as 2 200 mense het volgens Uganda se menseregtekommissie tydens ’n vorige ernstige voedselkrisis in 2022 gesterf.


Die regering sê noodvoedselhulp bied slegs tydelike verligting en langtermynmaatreëls moet getref word. Die nuwe Karamoja-streekontwikkelingsplan moet gemeenskappe se droogteweerstand verbeter, terwyl boere voor die volgende plantseisoen droogtebestande, siektebestande en vroeg rypwordende saad sal ontvang.

Die krisis word vererger omdat daar nie meer genoeg internasionale hulpverlening is nie. Die Wêreldvoedselprogram het voedselhulp aan 63% van Uganda se vlugtelingbevolking uitgefaseer. Meer as ’n miljoen mense het ondersteuning verloor. Slegs die kwesbaarste ontvangers ontvang nou verminderde rantsoene.

Groter belegging bepleit

Uganda huisves meer as 1,8 miljoen vlugtelinge en asielsoekers uit onder meer Suid-Soedan, Soedan, die Demokratiese Republiek die Kongo en Burundi. Die land se voedselonsekerheid word steeds as ernstig beskou, terwyl ongeveer een uit elke vier kinders chronies ondervoed is.

Agnes Kirabo van Uganda se Food Rights Alliance sê regeringsleiding is noodsaaklik, maar verspreiding van voedsel sal op sigself nie die probleem oplos nie. Sy pleit vir groter belegging in besproeiing, waterinfrastruktuur, klimaatweerbaarheid en volhoubare landbouproduksie om voorspelbare en voorkombare hongersnood permanent te beëindig.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487  1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.