Central SA
Britse man wat glo vrou, dogters vermoor in Suid-Afrika aangekeer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:06 Sat, 11 Jul 2026
Die man wat glo sy vrou en twee dogters vermoor en na Suid-Afrika gevlug het, sal na verwagting Maandag (13/7) in die hof verskyn.
Ndodana Mkhanyisi Tshuma (45), ook bekend as Mark, is Vrydag (10/7) in Kensington, Johannesburg, in hegtenis geneem. Daar is Woensdag met ’n internasionale soektog na hom begin, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.
Tshuma, ’n Britse burger van Zimbabwiese afkoms, het na bewering Londen verlede Saterdag deur die Heathrow-lughawe met ’n Britse paspoort verlaat.
Hy is in hegtenis geneem ná samewerking tussen die polisie se eenheid vir misdaadintelligensie, georganiseerde misdaad en Interpol, sê Mathe.

Zandile Tshuma en hul dogters, Natalie en Nala. Foto verskaf.
Die liggame van sy vrou, Zandile Tshuma (42), en hul twee dogters, Natalie (15) en Nala (5), is enkele dae later in die gesin se luukse woning in Bedford, Engeland, gevind.
Die polisie in Brittanje het hul huis besoek omdat daar kommer oor hul welstand was. Daar is aanvanklik vermoed dat Tshuma moontlik na Zimbabwe gevlug het.

Ndodana Mkhanyisi Tshuma het na Suid-Afrika gevlug. Foto verskaf
Tshuma is die direkteur van ’n eiendomsonderneming. Zandile was ’n assistentdirekteur by Forensic Risk Alliance in Londen wat spesialiseer in die ondersoek van bedrog, geldwassery en regulatoriese nakoming.

Die Tshuma-familie in gelukkiger tye. Foto verskaf
Lt.genl. Puleng Dimpane, Suid-Afrika se waarnemende polisiekommissaris,sê die inhegtenisneming is ’n bewys Suid-Afrika is nie ’n veilige hawe vir voortvlugtiges nie.
“Enigiemand wat glo hulle kan geregtigheid ontduik deur na ons land te vlug moet weet die polisie sal onverpoos met internasionale wetstoepassers werk om hulle op te spoor en in hegtenis te neem.”
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.
