Central SA
‘Heilige Gees is transgender’: Omstrede gedig ontstel Noord-Kaapse ouers─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:38 Tue, 08 Sep 2026
Ouers van ’n Noord-Kaapse laerskool is woedend oor ’n gedig waarin na die Heilige Gees as transgender verwys word.
Die Suid-Afrikaanse digter Koleka Putuma se “Water” is volgens die Laerskool Kuruman deel van gr. 7-leerders se poësie-leerplan, maar ouers beskou die inhoud as te volwasse vir kinders van dié ouderdom. Die gedig raak temas aan soos slawerny, kolonialisme, ras, godsdiens, seksuele oriëntasie en gender. Dit bevat ook verwysings na Jesus, God en die Bybel.
’n Ouer sê haar beswaar is glad nie teen die bespreking van respek vir verskillende kulture, politieke standpunte, lewenservarings of selfs verskillende seksuele oriëntasies in die klaskamer nie. “My kommer lê egter by die emosionele volwassenheid van ’n 12-jarige leerder om die direkte verbinding van God met dié soorte seks en seksuele oriëntasie te kan verwerk en krities te interpreteer.”
Sensitiewe temas
Nie alle leerders beskik op dié ouderdom oor die nodige emosionele en kognitiewe volwassenheid om komplekse en sensitiewe temas in die regte konteks te verstaan nie. “My beswaar teen die gedig is nie gegrond op ’n onwilligheid om moeilike of omstrede onderwerpe te bespreek nie, maar op die vraag of hierdie spesifieke inhoud ontwikkelingsgepas is vir gr. 7-leerders en of dit op hierdie ouderdom op ’n verantwoordelike wyse aangebied en verwerk kan word.” '
Die gedig verwys onder meer na die Heilige Gees as transgender en vra of die dissipels homoseksueel kon wees, terwyl die Drie-eenheid ook op omstrede wyse beskryf word. ’n Ander ouer bevraagteken of dieselfde benadering gevolg sou word indien ’n gedig oor ’n ander godsdiens, soos die Moslem-geloof, aan leerders voorgelê sou word.
Kognitiewe volwassenheid
“Wat vir die een geld, geld vir die ander. Ek is jammer, maar ek kan nie daarvoor staan nie,” sê die ouer. Hy voeg by ’n gr. 7-leerder sal moontlik nie die breër literêre konteks van sekere gedeeltes verstaan nie en dit letterlik interpreteer.
“Hulle sien dit soos dit daar staan, hulle sien dit as kleur. Sekere van die temas behoort eerder met ouer leerders bespreek te word, wanneer hulle oor groter emosionele en kognitiewe volwassenheid beskik.

Die digter Koleka Putuma. Foto verskaf
“Ek sal sê dalk gr. 11, matriek of wanneer jy universiteit toe gaan. Wanneer jy al meer volwasse is, kan jy sekere dinge sien vir wat dit werklik beteken en verstaan dat dit nie noodwendig letterlik is soos wat daar staan nie.”
Die ouer bevraagteken ook waarom dié spesifieke gedig gekies is wanneer daar talle ander beskikbaar is. “Was daar geen ander gedig in hierdie hele wêreld, deur enige ander lewende persoon, wat beter geskik sou gewees het nie?”
’n Anonieme bron sê verskeie ouers het reeds kapsie gemaak teen die gebruik van die gedig. Die saak is ook onder die beheerliggaam se aandag gebring.
Volgens die bron is daar aanvanklik gesê ’n ander gedig sou eerder gebruik word, maar dit het nie gebeur nie. Leerders moet steeds ’n opdrag oor “Water” voltooi. Take oor Putuma en ’n mondelinge aanbieding word vir dié week beplan.

'n Gedeelte uit die gedig wat die ouers ontstel het. Foto skermskoot
Pelonomi Itumeleng, die onderwyser verantwoordelik vir gr. 7 se Engels eerste addisionele taal en huistaal, sê die gedig vorm deel van die leerders se breër poësiewerk dié kwartaal. Leerders leer onder meer wat poësie is, asook oor verskillende soorte gedigte en poëtiese tegnieke, terwyl hulle aanvanklik navorsing oor die lewe van Putuma doen.
“Die keuse van Koleka was ook om te verstaan wat dit beteken om met lewende digters te werk. As ’n kontemporêre digter en iemand wat ’n belangrike rol in die poësieruimte in Suid-Afrika speel, is sy ’n belangrike naam in die bedryf.”
Sy verstaan waarom sekere temas kommer kan veroorsaak, maar wys daarop dat die klas multikultureel, veelrassig en veeltalig is, met leerders uit verskillende agtergronde. “Verwysings na transgender mense, homoseksualiteit, godsdiens, ras en bevoorregting vorm deel van ’n groter gesprek oor diversiteit en hoe leerders mense met ander agtergronde en oortuigings moet benader.”
'Doel is nie om leerders van ’n spesifieke oortuiging te probeer oortuig nie'
Sy sê die verwysing na “wit mense” in die gedig moet ook nie letterlik as ’n verwysing na ras geïnterpreteer word nie. “Dit gaan oor ’n posisie van bevoorregting. Poësie moet nie altyd letterlik geïnterpreteer word nie en dit is juis belangrik om met leerders oor figuurlike taal en verskillende moontlike interpretasies te praat.”
Sy en die klasse het reël vir reël deur die gedig gegaan. “Ons het ’n gesprek gehad oor of hulle dink dit is reg, hoekom die digter dit op dié manier gestel het en wat hulle daaruit verstaan. Die gesprekke raak onder meer ras, kultuur, taal, hare en sogenaamde ‘hair politics’ aan, asook hoe mense ruimtes moet hanteer wanneer hulle met iemand te doen kry wat anders as hulle is.”
Verskillende perspektiewe
Die doel is nie om leerders van ’n spesifieke oortuiging te probeer oortuig nie, maar om hulle te leer om verskillende perspektiewe te verstaan en mense met respek te behandel, selfs wanneer hulle nie saamstem nie.
Itumeleng sê gesprekke oor seksualiteit is ook belangrik omdat kinders mekaar soms as gay etiketteer of bespot wanneer iemand iets doen waarvan ander nie hou nie. “Vir so lank as wat ons dit nie hanteer nie en dink dit is net kinders, groei hulle in volwassenes wat steeds so optree,” sê sy.
Volgens haar is die gesprekke veral belangrik omdat die leerders binnekort hoërskool toe gaan, waar hulle met nog meer mense uit verskillende agtergronde in aanraking sal kom. Sy gee toe sommige ouers sal moontlik verkies om sekere gesprekke self met hul kinders te begin. “Ek verstaan dat ek dalk die gesprek ’n bietjie vroeër gevoer het as wat die ouers verwag het.”
Die gedig is reeds afgehandel en word nie as ’n deurlopende onderwerp in die klas behandel nie. Dit is ook nie as ’n volledige teks aangebied wat leerders moet bestudeer nie, maar was slegs een vraag.
Sy is verbaas dat die kwessie tot dié punt gekom het. “Die ouers het my telefoonnommer. Die skool is daar. Daar was baie maniere om ook net deur te kom en ons kon ons kant verduidelik.”
Floyd Turner, skoolhoof, sê die skool ondersteun pogings om diversiteit en respek te bevorder en om leerders aan verskillende kulture bloot te stel. “Ons ondersteun alle pogings om diversiteit en respek te bevorder en om verskillende kulture te verstaan. Ons wil ook seker maak dat ons ouers gelukkig is en tevrede is met die onderwys wat hul kinders by die skool ontvang.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

