On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Niemand nog vas ná moord op renjaer in Kempton Park

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:09 Fri, 18 Sep 2026

Niemand nog vas ná moord op renjaer in Kempton Park | News Article
Robert Wolk. Foto: Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ’n renjaer helder oordag in ’n moontlike padwoedevoorval doodgeskiet is nie.

Robert Wolk (41) is Woensdag (16/9) in ’n skietvoorval in Kempton Park dood nadat ’n motorongeluk vermoedelik in ’n noodlottige konfrontasie ontaard het. ’n Moordsaak word ondersoek nadat hy aan verskeie skietwonde gesterf het, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, Gautengse polisiewoordvoerder.

Die polisie is na die hoek van Camwoodstraat en Parklandrylaan in Esther Park ontbied, waar Wolk op die toneel dood verklaar is. ’n Audi wat vermoedelik aan hom behoort het, is ook op die toneel gevind.

Ontstellende kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval is intussen wyd op sosiale media versprei. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe hy glo foto’s van die ongelukstoneel neem voordat die bestuurder van die ander voertuig uitklim. Wolk kan daarna gesien word waar hy weghardloop, voordat hy van agter af geskiet en op die grond neergeslaan word.


Motorsport Suid-Afrika (MSA) betuig intussen sy medelye met familie, vriende, spanlede, kollegas en die breër motorsportgemeenskap. Wolk was bykans drie dekades lank ’n gesiene figuur in Suid-Afrikaanse motorsport en het in verskeie dissiplines meegeding, waaronder knortjor-, enkelsitplek- en toerwa-wedrenne.

Sy loopbaan het reeds op junior vlak groot hoogtes bereik. Hy het die Suid-Afrikaanse Junior GP-knortjorkampioenskap in 1995 en 1997 gewen, voordat hy later verskeie Formule Ford-titels ingeoes het.

Volgens MSA het hy in 2013 die Suid-Afrikaanse Formule Volkswagen-kampioenskap gewen, gevolg deur die SA Formule 1600-kampioenskap in 2015. Hy was daarna in 2021 en 2022 die SA GTC-kampioen en het in 2024 die SA Toermotorkampioenskap gewen.

Wolk sou dié naweek aan ’n motorrengeleentheid by Killarney in Kaapstad deelneem. Foto verskaf

Wolk het in 1998 sy Suid-Afrikaanse Junior Protea-kleure ontvang en in 2022 senior Protea-kleure in motorsport verwerf. Hy het in Mei die King of the Hill-titel by die Simola Hill Climb in Knysna verower en in Junie na die SA Toermotor-reeks teruggekeer, waar hy ’n oorwinning op die Aldo Scribante-baan in Gqeberha behaal het.

Hy sou dié naweek aan ’n motorrengeleentheid by Killarney in Kaapstad deelneem. MSA beskryf Wolk as ’n hoogs gerespekteerde figuur wat ’n groot leemte in Suid-Afrikaanse motorsport laat.

“Robert sal nie net onthou word vir die kampioenskappe en oorwinnings wat hy behaal het nie, maar ook vir die passie, toewyding en sportmanskap wat hy deur sy loopbaan na die sport gebring het.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.