On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Erfenis op ’n bord: Geure wat ons heimwee bring

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:05 Thu, 24 Sep 2026

Erfenis op ’n bord: Geure wat ons heimwee bring  | News Article
Suid-Afrika vier vandag Erfenisdag. Foto verskaf

As daar één ding is wat Suid-Afrikaners op Erfenisdag saam kan doen, is dit om die vuur aan te steek, die vleis op die rooster te sit en te onthou dat plaaslike geure deel is van wie ons is.

Vir baie Suid-Afrikaners beteken 24 September ’n lekker braai saam met familie en vriende met boerewors, tjops, sosaties, pap en sous. In ander huise is dit dalk ’n potjie, vetkoek, chakalaka of ’n bord tradisionele kos wat herinneringe aan ouma se kombuis terugbring.

In sommige kulture en huishoudings is kos soos pap, umngqusho, morogo, amadumbe, vleis en suurmelk deel van tradisionele eetgewoontes wat oor geslagte heen oorgedra word. Suid-Afrika se verskillende gemeenskappe het elkeen hul eie kos, tale, gebruike en maniere om kos voor te berei, met tradisionele kookmetodes wat dikwels rondom vuur, graan, vleis en gefermenteerde produkte ontwikkel het.

In ander huishoudings is kos weer ’n sterk herinnering aan Kaapse en Maleise erfenis, met geregte soos bredies, bobotie, denningvleis, samoesas en speseryryke kos wat deel van families se kombuistradisies geword het.

Erfenisdag word gevier met tradisionele kos wat herinneringe aan ouma se kombuis terugbring. Foto: iStock

Daar is ook die geure wat baie mense onmiddellik aan huis laat dink – melktert, koeksisters, beskuit, biltong, potjiekos en natuurlik ’n behoorlike braaivleis. Maar Suid-Afrika se erfenis stop nie by kos nie.

Dit lê in die tale wat ons praat, die musiek waarna ons luister, die stories wat grootouers aan hul kleinkinders vertel, tradisionele klere, danse, geloofsoortuigings, kuns, familiegebruike en selfs die manier waarop mense bymekaar kom.

En dít is eintlik waaroor Erfenisdag gaan. 24 September is sedert 1995 ’n openbare vakansiedag en is bedoel om Suid-Afrika se uiteenlopende kulturele erfenis te erken en te vier. Erfenis sluit in ons geskiedenis, taal, kos, kreatiewe uitdrukking, musiek, kuns en tradisies.

Suid-Afrikaners is lief vir bobotie. Foto verskaf

Die datum was aanvanklik met die herdenking van Zoeloekoning Shaka verbind en is as Shaka-dag beskou. Met die koms van demokrasie is dit egter uitgebrei tot ’n nasionale dag waarop Suid-Afrikaners uit verskillende kulture hul gedeelde en unieke erfenis kan vier.

Die tema van vanjaar se Erfenisdag is Celebrating our living heritage: Strengthening the ties that bind us. Dit fokus op lewende erfenis, ubuntu, samehorigheid en die bande wat Suid-Afrikaners met mekaar verbind.

Niks is so lekker soos 'n tjoppie op die vuur nie. Foto: iStock

So ja, steek vandag die vuur aan. Maak daardie potjie. Bak die pannekoek. Rol die koeksisters. Sit die melktert in die yskas. Maak pap en sous, braai ’n tjoppie of haal daardie resep uit wat al jare in die familie is.

Suid-Afrika se erfenis hoef nie net in ’n museum te wees nie – jy kan dit ruik, proe, hoor en saam met jou mense om die tafel deel. Plaaslik is lekker. En vandag vier ons alles wat ons Suid-Afrikaans maak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.