Central SA
Bedrogverhoor van Welkomse prokureur begin eers volgende jaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:48 Sat, 26 Sep 2026
Die verhoor van die prokureur en veroordeelde verkragter wat van bedrog van miljoene rand aangekla word, sal na verwagting eers volgende jaar in die streekhof begin.
Jan Gysbert Maritz (58) was Dinsdag (22/9) in die Bloemfonteinse hof, waar sy verhoor wat aanvanklik dié week sou begin tot 10 en 11 Februarie en 7 en 8 April volgende jaar uitgestel is. Die saak is uitgestel nadat adv. Phendulwa Zondo, die aanklaer, siek geword het.
Maritz staan tereg op vier aanklagte, waaronder bedrog, vervalsing en geldwassery, nadat hy na bewering die Matjhabeng-munisipaliteit uit R15 miljoen bedrieg het.
Die aanklagte spruit uit ’n regsgeskil tussen die munisipaliteit en Orxy Trading, wat veiligheidsdienste aan die munisipaliteit gelewer het en aan wyle Freddy Dingani behoort het. Maritz het die saak namens Matjhabeng deur Bokwa Prokureurs behartig.
Motaung Prokureurs is as die eksekuteur van Dingani se boedel aangestel en het die regsgeding tussen die munisipaliteit en Orxy Trading voortgesit. Die hooggeregshof in Bloemfontein het op 17 Desember 2020 gelas die munisipaliteit moet teen 16 Julie 2021 R15 miljoen aan Orxy Trading betaal.
Die munisipaliteit het Maritz daarna vir Orxy Trading se bankbesonderhede gevra, maar hy het na bewering die bankbesonderhede van sy eie beslote korporasie, Major Issues, verskaf. Die geld is glo in dié rekening inbetaal.
Maritz het voorheen getuig sy inhegtenisneming was vir hom ’n verrassing en die betaling in sy beslote korporasie se rekening as ’n “groot ongeluk” beskryf. Hy het glo die munisipaliteit daarvan ingelig nadat hy ’n kennisgewing van sy bank oor die deposito ontvang het.
R10 miljoen
Hy het ook beweer hy was van plan was om die geld aan die munisipaliteit terug te betaal, maar dat hy opdrag gekry het om dit na Motaung Prokureurs se bankrekening oor te betaal.
Hy het getuig die munisipaliteit se finansiële bestuurder het hom gewaarsku versuim om Orxy Trading voor die sperdatum te betaal kan tot boetes lei, terwyl die munisipaliteit se bankrekeninge na bewering bevries was.
Hy het glo slegs R10 miljoen betaal omdat regskoste by die totale bedrag van R15 miljoen ingesluit was. Die saak is reeds verskeie kere vertraag.
In Mei kon Maritz nie vir ’n hofverskyning van die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein na Welkom gebring word nie weens ’n administratiewe fout met sy papierwerk by die departement van korrektiewe dienste.
“Dit was die tweede keer dat hy onder soortgelyke omstandighede nie in die hof verskyn het nie,” het Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder, vroeër gesê. Hy het ook in Oktober nie vir ’n borgtogverhoor verskyn nie, glo ook weens ’n “misverstand”.
Lewenslange vonnisse
Maritz het voorheen aangevoer hy kon borgtog van R10 000 bekostig en was bereid om aan alle borgtogvoorwaardes te voldoen. Hy het glo ook die verrigtinge in sy ander strafsaak die voorafgaande ses jaar getrou bygewoon.
Hy dien drie lewenslange vonnisse in Bloemfontein uit vir verskeie seksuele oortredings teenoor minderjariges.
Hy is op 17 Oktober 2025 in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is aan 16 voorvalle wat tussen 2007 en 2014 in die omgewing van Virginia, Odendaalsrus en Welkom plaasgevind het.
Regter Soma Naidoo het tydens vonnisoplegging gelas sy naam moet in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem word en hom permanent verbied om met kinders te werk.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.



