On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Laurika
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ses mans langer in arres ná beslaglegging op 500 kg koperkabels

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Thu, 15 Oct 2026

Ses mans langer in arres ná beslaglegging op 500 kg koperkabels | News Article
Die beskuldigdes in die diefstalsaak. Foto verskaf

Ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle meer as 500 kg koperkabels gesteel het, sal langer as ’n week agter tralies deurbring voordat hulle om borgtog kan aansoek doen.

Ntane Mokoto (42), Noko Lengau (26), Teboho Molupe (42), Thuso Leeto (40), Majoro Mohlolo (48) en Katleho Rampholodi (36) se saak is tot Vrydag (23/10) uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek. Hulle het Woensdag (14/10) in die Odendaalsrus-landdroshof op ’n aanklag van diefstal verskyn, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die voertuie is op die R30 tussen Allanridge en die Grootkop-substasie voorgekeer. Tydens ’n deursoeking het die polisie die koperkabels in die voertuie gevind,” sê Thabana.

Die ses buitelanders (tussen 26 en 48) is Maandag (12/10) omstreeks 21:00 in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het oor twee voertuie wat van Bothaville in die rigting van Welkom onderweg was.

Die kabels wat gevind is. Foto verskaf

Inligting wys die kabel het moontlik aan Transnet behoort. Dis na bewering in Noordwes gesteel voordat dit na Welkom vervoer is. Die polisie het beslag gelê op die koperkabels, met ’n beraamde straatwaarde van R100 000, asook ’n silwer Volkswagen Golf 5 en ’n wit Ford-bakkie wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is. Albei voertuie is as bewysstukke geregistreer.

In ’n ander saak is die Welkom-polisie steeds op soek na sowat tien verdagtes ná ’n gewapende rooftog by ’n groothandelaar in die stad, waartydens ’n onbekende bedrag geld gebuit is.

Die verdagtes, wat klapmusse gedra en gewere by hulle gehad het, het klante glo Saterdag (10/10) omstreeks 12:20 in Muizenstraat beveel om op die grond te lê voordat hulle die geldlaaie en ’n onbekende bedrag geld by die toonbank gebuit het, sê Thabana.


“Verskeie skote is afgevuur voordat die verdagtes in twee voertuie gevlug het: ’n wit Toyota Corolla Cross met ’n Oos-Kaapse registrasienommer, en ’n rooi Volkswagen Golf 7 GTI sonder ’n nommerplaat.”

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek die voorval as ’n gewapende rooftog en poging tot moord.

Enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan speursers. Katlego Nketsi by 072 1980697 bel, of Stop Misdaad by 08600 10111 nader. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.