On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-slikdamramp: Strafsaak teen vyf mans, maatskappye duur voort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:26 Tue, 24 Nov 2026

Jagersfontein-slikdamramp: Strafsaak teen vyf mans, maatskappye duur voort | News Article
Die beskuldigdes in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die strafsaak teen die vyf mans en verskeie maatskappye wat weens die Jagersfontein-slikdamramp teregstaan, sal na verwagting Woensdag (25/11) vir ’n voorverhoorkonferensie in die hof dien.

Die beskuldigdes het laas op 4 Augustus in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn nadat die saak vroeër vanjaar van die Jagersfontein-landdroshof oorgeplaas is. Gert Abraham Coetzee (34), Jan Homes Viljoen en Jagersfontein Development het aan die staat vertoë gerig wat nog nie afgehandel is nie.

Deskundige verslae waarop Marius de Villiers (62), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Petrus Johannes Combrink (60) en verwante maatskappye steun, is ook nog nie gereed nie. Hulle staan tereg op aanklagte van ernstige omgewingsbesoedeling, die oortreding van watergebruiklisensievoorwaardes, die verskaffing van vals of onvolledige inligting en die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie.

’n Motor in Jagersfontein is toe onder die slik ná die ramp in September 2022. Foto verskaf

Die klagstaat sluit ook in verskeie damveiligheidsoortredings en 121 aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging. Die beskuldigdes het in 2011 begin om ou mynafval in Kopanong-munisipaliteit te herverwerk en die afvaldam oor etlike jare uitgebrei. Teen 2015 het die dam se kapasiteit 50 000 m³ oorskry, wat dit volgens die staat ’n hoërisiko-kategorie III-dam gemaak het wat geregistreer moes gewees het.

Die staat beweer die dam is nie geregistreer nie en misleidende of onvolledige stabiliteitsdata is ingedien. Belangrike inligting is glo weerhou, die dam is sonder die nodige goedkeuring uitgebrei en die toegelate afvalbeperkings is na bewering drievoudig oorskry.

Die Jagersfontein-slikdamramp in 2022. Foto verskaf

Die dam se suidelike oewer het op 11 September 2022 meegegee, waarna sowat 5,1 miljoen m³ slik en water losgelaat is en deur Jagersfontein gestroom het. Die beskuldigdes het sedertdien verskeie kere in die landdroshof verskyn en die saak is voorheen uitgestel sodat die verdediging die dossier kon bestudeer.

Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu het in die ramp gesterf. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie. Papiki Tsoali, ’n inwoner en slagoffer wie se huis vernietig is, het vroeër aan OFM Nuus gesê hy hoop geregtigheid sal geskied.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development. Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, terwyl adv. Allen Simpson vir Viljoen verskyn. John Stiff tree namens SRK Consulting op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.