On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Parys staan saam ná noodlottige ongeluk wat ma, vriend se lewe eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:00 Thu, 15 Oct 2026

Parys staan saam ná noodlottige ongeluk wat ma, vriend se lewe eis | News Article
Jassie Jansen van Vuuren en Liezel Fouché . Foto verskaf

Drie kinders van Parys moet binne enkele dae die verlies van albei hul ouers verwerk nadat ’n noodlottige motorfietsongeluk ook die lewe van haar ma en dié se lewensmaat geëis het.

Liezel Fouché (42) en Jassie Jansen van Vuuren (42) is Dinsdag (14/10) dood toe die motorfiets waarop hulle gery het, op die R500 tussen Fochville en Parys met ’n woonwa gebots het.  Paul Fouché (42), met wie Liezel voorheen getroud was, is Vrydag (9/10) aan ’n hartaanval dood. 

Paul het sedert ’n motorongeluk drie jaar gelede gesondheidsprobleme gehad. Sy roudiens is Vrydag (16/10) om 11:00 in die NG Oos-gemeente op Parys.

Die motorfietsongeluk het Dinsdag kort voor 17:00 naby die ingang van Waterfall Estate plaasgevind. Albei is op die toneel dood verklaar.

Fouché was ’n onderwyseres by Dome Combined School, waar sy sedert die begin van die jaar vir die intermediêre fase klas gegee het. Sy het voorheen ook by Schonkenville Intermediate School en AM Lembede skoolgehou.

Anneke Odendaal, oudleerling van ’n skool waar Fouché skoolgehou het, sê aan OFM Nuus haar dood is ’n groot verlies vir almal wat haar geken het.

“Sy het ’n besondere vermoë gehad om ander se harte aan te raak, ondanks die moeilike tye wat sy self beleef het. Sy het reeds die pyn van die verlies van ’n kind aan kanker geken, maar het telkens die krag gevind om aan te gaan.

“Al haar kinders het voor my grootgeword en sy het sterk kinders grootgemaak, net so sterk soos sy was. Sy was ’n spesiale onderwyseres wat ’n spesiale plek in my hart gehad het. Sy gaan baie gemis word,” sê Odendaal.

Wilna van Buren-Scheele, skoolhoof van Dome Combined School, beskryf haar as ’n geliefde en gerespekteerde onderwyseres wat met haar omgee-aard en liefde vir kinders ’n blywende indruk op haar kollegas en leerders gemaak het.

Chané Fouché. Foto verskaf

Fouché word oorleef deur haar kinders, Chané, Jason en Justin Fouche, asook Christopher en Kian Pretorius, en haar suster, Marinda Hattingh. Die twee sterftes binne enkele dae beteken dat die Fouché-kinders nou die verlies van albei hul ouers moet verwerk.

Jansen van Vuuren (42) was ’n gebore Parysenaar wat in die dorp grootgeword en skoolgegaan het. Hy het ten tyde van sy dood by Shogun gewerk. Hy word oorleef deur sy kinders, Kaylee, Marnu, Pikkie en Abby-gail, asook sy suster, Marie, en broers, Tommy en Hendrik.

’n Plaaslike onderneming, AB’s Pub & Grill, het ’n fondsinsamelingsveldtog begin om Chané te help om haar studies voort te sit en haar lewenskoste te dek.

Sy werk hard en betaal self vir haar studies, maar moet nou haar toekoms sonder die ondersteuning van haar ouers aanpak. Die onderneming doen ’n beroep op inwoners van Parys, omliggende gemeenskappe en ondernemings om by te dra tot die fondsinsameling. Die aanvanklike mikpunt is R100 000, hoewel enige bydrae welkom is.

Volgens die onderneming gaan die ondersteuning nie net daaroor om onmiddellike finansiële druk te verlig nie, maar ook om Chané te help om ondanks haar verlies aan haar drome en doelwitte te bou.

Mense wat nie geldelik kan bydra nie, word aangemoedig om die nuus oor die veldtog te versprei sodat meer mense van haar omstandighede bewus kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.